US-Alkoholverbod: Vooruitsigte vir reën in die dorsland

Studentegemeenskappe sal jaarliks hulle eie reëls rondom alkoholgebruik moet hersien tot die bevrediging van die Universiteit Stellenbosch (US) se Sentrum vir Studentegemeenskappe (SSG).

Dít is volgens Pieter Kloppers, direkteur van die SSG aan die US. 

Die US het besluit om alkohol in studentegemeenskappe vanaf die begin van 2020 tydelik te verbied as gevolg van fuifdrinkery, die dood van ’n student en die toename in geslagsgebaseerde geweld, het Kloppers gesê. 

Pieter Kloppers is die direkteur van die Sentrum vir Studentegemeenskappe (SSG). Die SSG val onder die Universiteit Stellenbosch se afdeling vir studentesake. Hulle het ten doel om te verseker dat studente ’n holistiese lewens- en leerervaring in hul koshuise en klusters het. FOTO: Twitter/ Pieter Kloppers.

Pieter Kloppers is die direkteur van die Sentrum vir Studentegemeenskappe (SSG). Die SSG val onder die Universiteit Stellenbosch se afdeling vir studentesake. Hulle het ten doel om te verseker dat studente ’n holistiese lewens- en leerervaring in hul koshuise en klusters het. FOTO: Twitter/ Pieter Kloppers.

“Die klem van die verbod was nooit om alkohol weg te vat nie. Die klem was om ’n gesprek aan die gang te kry oor hoe alkohol op gesonde maniere in studentegemeenskappe gebruik kan word,” het Kloppers aan MatieMedia gesê.

Die primkomitee het in Februarie vergader en besluit dat elke studentegemeenskap ’n memorandum moet voorstel oor hoe hulle verantwoordelike alkoholgebruik sal bevorder en sal toepas, het Ingrid Heydenrych, voorsitter van die primkomitee aan die US, gesê.

Volgens Heydenrych het die universiteit nooit duidelike kommunikasie aan die komitee gegee toe die geen-alkohol reël ingestel is nie.

Lwazi Pakade, ’n lid van US se Studenteraad in 2019, gesels met eNCA oor die alkoholverbod. Pakade meen dat dit verkeerd was van die universiteit om só ’n besluit sonder studente se betrokkenheid te neem – aangesien dié besluit studente die meeste raak. VIDEO: YouTube/eNCA.

“Die gevolg van dit was dat die primkomitee moes voortou neem om die pad vorentoe vir studentegemeenskappe te bepaal – met die hoop dat die memorandums uiteindelik aanvaar sou word,” het sy gesê.

Die primkomitee het op die stadium ’n “sambreel”-alkoholbeleid opgestel, het Heydenrych gesê.

“Elke studentegemeenskap se individuele beleide moet onder hierdie ‘sambreel’ funksioneer,” het Heydenrych verder gesê.

Eendrag-manskoshuis het reeds hulle memorandum* ingedien, het Alten du Plessis, uitgaande primarius van Eendrag, gesê.

Pieter Kloppers gesels met Arehan Brand in sy program Kompas op RSG. Hulle praat oor alkoholgebruik onder jongmense – veral met die klem op die tydelike alkoholverbod wat aan die Universiteit Stellenbosch in plek gestel het. KLANKGREEP: JC Landman/RSG.

“Daar is vae riglyne verskaf en dit moedig studentegemeenskappe aan om slegs die minimum goed in hul memorandums in te sluit – wat nie regtig die doel van die proses is nie,” het Du Plessis gesê.

Deur net enige tipe reëls te maak – streng of nie – verander nie regtig die oortuigings van mense óf die alkoholkultuur nie, het Du Plessis gesê.

“As mens die regte betrokkenheid het waar mens die waardes van ’n gemeenskap – wat die gemeenskap as aanvaarbaar sien – kan verander, dan kan mens die regte langtermyn- kulturele verandering teweegbring. Dít moet die doel wees,” het Du Plessis gesê.

AlkoholSU_5

Ingrid Heydenrych is die huidige voorsitter van die Universiteit Stellenbosch se primkomitee. Voorheen was Heydenrych ook die primaria van die US-dameskoshuis, Irene. FOTO: Verskaf/Ingrid Heydenrych.

Volgens Kloppers sal die voorstelle van die studentegemeenskappe bestudeer word om die oorkoepelende alkoholreëls vir US-studentegemeenskappe op te stel. 

“Elke studentegemeenskap sal dan reëls vir dáárdie gemeenskap moet opstel wat binne die oorkoepelende reëls pas,” het hy gesê. “Dus sal die reëls tussen studentegemeenskappe kan verskil.”

Indien studentegemeenskappe nie hulle eie reëls opstel nie, sal die gebruik van alkohol ’n oortreding van die universiteit se reëls wees, het Kloppers gesê.

*Hierdie memorandum is nie bindend tot Eendrag Manskoshuis nie en kan verander. LET WEL: Studentegemeenskappe se memorandums kan verskil. MEMORANDUM: Verskaf/ Alten du Plessis.

,