Universiteit Stellenbosch Museum spog met eerste toekenning tydens eeufeesjaar

“Nie lank gelede nie, was dié museum ’n ruimte wat swart mense nie kon betree nie, wat net die werk van wit kunstenaars vertoon het en hoofsaaklik die wit Afrikaner-gemeenskap van die universiteit gedien het.”

Dít is die mening van Lwazi Pakade (23), ’n finalejaar Politieke Wetenskappe-student aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Volgens Bongani Mgijima, die direkteur van die US-museum, is dit ’n ruimte wat vandag bydra tot transformasie en poog om ’n meer inklusiewe omgewing vir toekomstige generasies te skep.  

In 2014 is Mgijima aangestel as die eerste swart direkteur van die universiteitsmuseum. Ná sy aanstelling was een van sy doelwitte om die samelewing te verbeter en uit te brei. Deur gebruik te maak van eksterne finansiering is die museum in ’n inklusiewe en veilige ruimte vir dialoog omskep. Volgens Mgijima stem dit ooreen met die universiteit se institusionele voornemens en strategieë om die universiteit ’n inklusiewe en toeganklike instansie te maak.

Die US-museum het onlangs sy eerste toekenning ontvang as die Beste Museum wat Sosiale Integrasie Bevorder tydens die Departement van Kultuursake se jaarlikse kulturele toekenningseremonie.

IMAGE 1.JPG

Die opvoedkundige en openbare programbeampte, Ricardo Brecht, spog met die US-museum se eerste toekenning.  FOTO: Jody-Lynn Taylor

“Die toekenning bevestig die werk wat ons gedoen het omdat ons regtig fokus op die museum as ’n inklusiewe en veilige ruimte waar verskillende generasies ontmoet en gesprekke voer.”

Mgijima sê hulle probeer om mense anders oor museums te laat dink. Lede van die publiek kan vandag eerder deelnemers as toeskouers wees.

“Om ’n toekenning te kry beteken dat ons op die regte pad is, maar dit skep ook die verwagting om meer te doen.”

Om inklusiwiteit en sosiale impak te bevorder, word kunstenaars soos Lunga Kama (36) en Zemba Luzamba (45), van voorheen benadeelde gemeenskappe, genader om hul werk by die museum uit te stal.

As deel van die Toegang tot Visuele Kunste Program word skole ook genooi om die museum te besoek. Dié program wat deur Mgijima begin is, het verlede jaar 1 013 leerders toegelaat om die museum te besoek. Die program, wat deur finansiering van die Het Jan Marais Fonds en die Nasionale Kunsteraad van Suid-Afrika moontlik gemaak is, is gerig op die jeug.

Die museum verskaf finansiering vir kinders van voorheen benadeelde skole om die museum en die US se Botaniese Tuine te besoek. Die program eindig met ’n kampustoer waar jong leerders aan die kampuslewe blootgestel word.

Volgens die opvoedkundige en openbare programbeampte aan die US-museum, Ricardo Brecht, word skole binne ’n radius van ongeveer 120km van die US gekies om aan die program deel te neem. Die museum begin met skole in Stellenbosch en omliggende gebiede soos Kayamandi en Kylemore en brei dan verder uit na skole in Khayelitsha en Belhar.

“Baie van die leerders toon belangstelling in visuele kunste en om aan die US te studeer. Daarom werf ons die leerders gelyktydig vir die universiteit,” meen Brecht. As deel van die universiteit se eeufeesviering word baie van die programme rondom hierdie tema gesentreer. “Die idee is om die gemeenskap en studente te lok om die museumruimte te betree,” sê Brecht.

IMAGE 2

Die US-museum se “Verlede Hede Toekoms” uitstalling wat handel oor die geskiedenis van die instelling en die studentelewe.  FOTO: Jody-Lynn Taylor

Dit sluit onder andere die Woensdagkunswandelinge in wat op spesifieke dae vanaf 13:00 tot 14:00 gehou word. Die kunswerke wat die universiteit die afgelope honderd jaar versamel het, word uitgestal en is volgens Brecht baie gewild. Eeufees-Vrydae word ook sedert Februarie aangebied en “Universiteit Stellenbosch-Verlede Hede Toekoms” het aan die begin van Mei afgeskop. Dit bied die geleentheid vir lede van die universiteit sowel as die breë gemeenskap om meer oor die instansie se geskiedenis te leer.

Ander uitstallings soos “Forward? Forward! Forward…” word ook vir die res van die jaar beplan. Dit is ’n  eeufeesuitstalling van ’n honderd kunswerke wat die toekoms van die universiteit en hoër onderwys in Afrika uitbeeld.