Surings: klein en onbekend, maar beslis nie ‘onkruid’

Meeste mense sal dink dit is onkruid of stap dalk verby en dink dit is ’n banale of vervelige plantjie. Min mense weet egter van die klein plantjies van die genus Oxalis, oftewel surings, wat verruklike blomme maak en ’n ongelooflike storie het om te vertel.

Surings is klein en groei altyd laag op die grond. Sou jy ’n stukkie afbreek en aan dit proe, sou jy ’n kenmerkende suur smaak in jou mond kry. Surings kan ook aan hulle helder en delikate blomme uitgeken word. Wat die Kaapse flora betref, is dit die grootste bolplantgenus en sewende grootste genus.

Oxalis7[1]

’n Suring met ligpers en wit blomme. FOTO: SZ Minnaar

Prof. Leanne Dreyer, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) se departement plant- en dierkunde, som dit op as “hulle kom hierdie tyd van die jaar uit, blom, maak vrugte en verdwyn weer [onder die grond] as dit droog word”. Sy sê daar word vermoed dat dit ’n reënval- en temperatuurverskynsel is. “Kort ná die eerste reëns en wanneer die aandtemperature daal, begin hulle bo die grond uitspruit. Binne twee of drie weke nadat hulle gespruit het, is hulle in volle blom,” verduidelik sy.

Die US Botaniese Tuin het verskillende spesiale plantversamelings, maar die Oxalis-versameling is die grootste van sy soort in die wêreld. Donovan Kirkwood, kurator van die Botaniese Tuin, sê die Oxalis-versameling is “sonder twyfel die belangrikste wetenskaplike versameling in die tuin”.

’n Suring met oranje blomme. FOTO: SZ Minnaar

’n Suring met oranje blomme. FOTO: SZ Minnaar

Wat surings veral besonders maak, is dat hulle in die herfs en winter blom. By die Botaniese Tuin staan hulle nou in volle blom, maar soms blom hulle ook buite seisoen. “Jy kan hulle ook manipuleer deur water. Ons tuinversameling is nou in volle blom, want ons het hulle vroeër begin water gee, want ons het materiaal nodig vir navorsing,” sê Dreyer.

Kayleigh Murray, ’n BSc (Biodiversiteit en Ekologie)-student in haar finale jaar, is sedert Januarie betrokke by die Oxalis-versameling en is onder meer verantwoordelik vir die algemene instandhouding van die versameling. Murray sê sy het verlief geraak op die Oxalis-versameling, “want dit is interessant en betrek soveel verskillende dissiplines”.

Kayleigh Murray by die Botaniese Tuin se Oxalis-versameling. FOTO: SZ Minnaar

Kayleigh Murray by die Botaniese Tuin se Oxalis-versameling. FOTO: SZ Minnaar

“As mens eers weet dat hierdie plante oor generasies heen aanhou bestaan het, en dat dit gevorm is deur die omgewing, gevorm is deur Suid-Afrika, dan voel ek dat [mens] dit meer waardeer,” sê sy.

“Dit is baie spesiaal om die surings hier te hê, want van die spesies [in die versameling] sou mens dink dit het uitgesterf of nie eens bestaan nie. Hulle kom ver van hier af,” sê sy.

Volgens Dreyer sluit die versameling spesies van so ver as Namakwaland en die Suidkus in.

“Daar is omtrent 230 spesies in Suid-Afrika, wat flippen baie is. In die twintig jaar wat ek hulle nou al bestudeer, het ons 20 nuwe spesies beskryf. Die oomblik as jy off the beaten track gaan, dan kry jy nuwe goed,” sê Dreyer.

Kayleigh Murray aan die werk met die Oxalis-versameling. FOTO: SZ Minnaar

Kayleigh Murray aan die werk met die Oxalis-versameling. FOTO: SZ Minnaar

“Dit kos verskriklik baie geld om die studente uit te vat,” sê sy. Daarom is die versameling in die Botaniese Tuin begin.

Elke jaar gebruik hulle dit vir “ ’n klomp” navorsingsprojekte. Volgens die Botaniese Tuin se webwerf is die versameling al deur agt MSc- en twee PhD-studente gebruik en 19 navorsingsartikels is gekoppel aan surings wat in die versameling gekweek is.

Deur kommersialisering en veredeling kan sekere suringspesies, veral bedreigde spesies, al hoe meer in mense se tuine begin opduik. Dit sal bydra tot bewaring asook bewustheid help skep.

“Daar is nog baie potensiaal vir surings. Suid-Afrika is ver agter met veredeling. Hier sit ons met ’n goudmyn van bolplantjies wat baie maklik is om te kweek wat blom in die winter wanneer niks anders blom nie,” sê Dreyer.

’n Suring met wit blomme. FOTO: SZ Minnaar

’n Suring met wit blomme. FOTO: SZ Minnaar

Die rede vir die huidige agterstand is volgens Dreyer ’n tekort aan sinergie tussen wetenskaplikes en hortoloë en die eerste prioriteit is om eers die hele versameling te dupliseer in ’n tuinversameling en ’n navorsingsversameling.

“Plante verdwyn. Veral raar plante verdwyn as jy dit in die tuin sit. Ons is besig om aan ’n versameling te bou wat aan die publiek bekendgestel kan word. Ons kyk om teen volgende jaar ’n uitstalversameling en ’n navorsingversameling te hê,” sê sy.

Dit is nog nie toeganklik vir die publiek nie, maar Kirkwood beaam wat Dreyer sê: “In die toekoms, soos meer spesies toegevoeg word en plantmateriaal gedupliseer word, sal ons ook meer van hierdie merkwaardige plante kan uitstal.”

Maar tot dan, kyk twee keer voor jy weer onkruid uittrek.