Suid-Afrika se eerste Khoikhoi-leerboek gevier

Suid-Afrika se eerste Khoikhoi-leerboek is onlangs in Graaff-Reinet gevier met ’n reeks gesprekke oor die “reparasie” van die taal en kultuur van die land se Eerste Nasie – die Khoisan. 

Dit is volgens Denver Breda, die organiseerder van die geleentheid en stigter van Munanai – die inheemse voetsoolvlak-organisasie wat die boek, Khoikhoi Useful Phrases & Words, gepubliseer het. Breda is die hoofsamesteller van die boek. 

Hoewel die boek reeds vroeër vanjaar bekend gestel is, was die samekoms in die Oos-Kaapse dorp om “resources te kry om meer daaruit te druk, en mense meer bewus te maak daarvan”, het Breda gesê.

Suid-Afrika

Suid-Afrika se eerste Khoikhoi-leerboek, Khoikhoi Useful Phrases & Words, is onlangs gevier “om Khoikhoi te laat sien lewe”, volgens Denver Breda, die hoofsamesteller van die boek. FOTO’S: Verskaf/Denver Breda. ILLUSTRASIE: Candice Jantjies

ǂHurusen

’n Hoofdoel met die geleentheid, wat van 29 Oktober tot 31 Oktober op ’n plaas in die dorp plaasgevind het, was om ’n ruimte te skep waar Khoi-mense krities oor hul kwessies kon praat, volgens Breda. “Maar ook dan te praat van ǂhurusenself-healing. Maar in ’n ruimte waar ons ons eie taal gebruik as die tool,” het hy gesê.

Terwyl die geleentheid nie baie mense gelok het nie, met ongeveer 40 bywoners, het Breda die gesprekke as “amazing” ervaar. “En vir dít moet ek dan dankie sê – Khaise khai gangans,” het hy gesê.

Denver Breda, die hoofsamesteller van die Khoikhoi Useful Phrases & Words-leerboek, motiveer waarom dit belangrik was om dié hulpbron te skep.

Munanai kon met behulp van toelaes van die Nasionale Kunsteraad (NAC) en Cultural Survival die nodige hulpbronne inspan om die boek te verwesenlik, volgens Breda. “Dit het sort of gehelp – daai geld – om net te fokus op die boek en dan mense te kry wat kan lei,” het hy gesê. Dit was vir hom belangrik om dié hulpbronne te vergoed, want “die feit dat ons Khoi-mense gevier word as ons goed doen sonder geld – dis só problematies”.

Volgens Bi’ani Madsa’ van Cultural Survival, is dit belangrik om in plaaslike projekte te belê om inheemse tale te bewaar. “Omdat inheemse tale ’n baie belangrike deel van inheemse lewe vorm, hou dit verband met die manier hoe ons die wêreld verstaan,” het Madsa’ per e-pos aan MatieMedia gesê, en het bygevoeg dat behoud veral belangrik is in ’n land soos Suid-Afrika, waar inheemse mense voor baie uitdagings te staan kom. 

Die boek is drie-talig in Khoikhoi (Nama), Afrikaans en Engels gepubliseer, en sluit ’n aantal alledaagse sêgoed in, volgens Breda. “‘Eendag is eendag’, ‘’n hond k*k ook hare’,” het hy gesê. Vir Breda is dit daai sêgoed – wat “saam met ons Khoi-mense is” – wat die kommunikasie opwindend maak. “Maar wat ons dan nou kan sit in ons eie taal.” Volgens Breda is die boek vir mense van alle ouderdomsgroepe.

’n Aantal Khoikhoi-sprekers is ingespan om die inhoud van die boek te bou, en dit dan na die verskeie tale te vertaal, volgens Breda. Dié span het bestaan uit homself, Maria Uazukuani, Delri Stoffel, Fredericka Vogelsang en Paul Vogelsang, het hy gesê. 

Vir Paul was dit ’n eer om deel te wees van die inisiatief om sy moedertaal te laat voortleef. “Hierdie Nama-taal lê vir ons baie na aan ons harte,” het Paul gesê, wat hartseer word wanneer hy dink aan hoe jonger generasies die taal “verstoot”; en hoe mense Nama-sprekers soms “uitlag wanneer hulle hul taal praat”. 

Die Khoikhoi Useful Phrases & Words-leerboek bevat ’n aantal alledaagse sêgoed wat “saam met ons Khoi-mense is”, het Denver Breda, die hoofsamesteller van dié endogene hulpbron, gesê. FOTO’S: Verskaf/Denver Breda. VIDEO: Candice Jantjies

*MatieMedia is terugvoer van die NAC belowe, maar het nie teen publikasie kommentaar ontvang nie.