Stellenbosch ‘Smokkelloop’ vir fynbos-bewaring

Die Bottelary Hills Renosterveld-bewaringsgebied (BHRC) het onlangs ’n stap- en hardloopaktiwiteit aangebied om bewustheid oor die rehabilitasie en bewaring van hul fynbos te skep. 

Dit is volgens Barry Scholfield, een van die organiseerders van dié inisiatief, die Smokkelloop, wat op 1 Oktober plaasgevind het. 

Die Smokkelloop was deel van die BHRC se eko-naweek wat van 1 Oktober tot 3 Oktober plaasgevind het, en waartydens ’n reeks omgewingsvriendelike aktiwiteite soos begeleide stap- en bergfietstoere aangebied is, volgens die BHRC-webtuiste. 

Die aktiwiteite is daarop ingestel om deelnemers bewus te maak van die BHRC se program vir die bewaring van fynbos in die gebied wat oor byna 40 wynplase in Bottelary, Stellenbosch en Polkadraai strek, volgens hul webtuiste. 

Die Bottelary Hills Renosterveld-bewaringsgebied (BHRC) strek oor 40 wynplase in Bottelary, Stellenbosch en Polkadraai. Bergfietsryers kan toegang tot die verskillende roetes kry deur permitte by verskillende toegangspunte aan te skaf, volgens die BHRC-webtuiste. SKERMGREEP: Nicola Spingies/Google Maps

“Omdat baie mense en besighede gedurende die grendelstaat [met alkohol] moes smokkel  om te oorleef, het ons met dié aktiwiteit ook met die bootlegging-tema gespeel,” het Scholfield gesê.

Die BHRC het ’n paar van die reëls vir die gebruik van hul bergfietsroete met die Smokkelloop oortree, volgens Scholfield. “Dit het plaasgevind waar mens nie normaalweg mag hardloop nie ‒ op die bergfietsroete ‒ én dit was na-ure wanneer niemand eintlik daarop mag wees nie,” het hy verduidelik.

Die Smokkelloop het om 18:30 afgeskop, volgens die BHRC-webtuiste. “Almal het dit binne ’n uur voltooi,” het Scholfield gesê. “Die bergfietsroete is gewoonlik oop van sonsopkoms tot sonsondergang.” 

Dié bergfietsroete van 6.2 km is ’n uitbreiding van die BHRC se bestaande roetes en was ’n “groot motivering” vir die deelnemers, volgens Adrian Winsor, ’n lid van die Trail-Blazers-groep wat bergfietsroetes in die Wes-Kaap bou. 

Barry Scholfield verduidelik hoe die Smokkelloop ontstaan het. STEMOPNAME: Nicola Spingies

“Die roetes self maak min inbreuk [op die omgewing], bring mense na sensitiewe gebiede wat hulle normaalweg nie kon besoek nie, en laat hulle toe om hulself te verdiep in die wonderlike natuur wat ons omring,” het Winsor gesê. 

Kaartjies vir deelname aan die Smokkelloop is teen R220 verkoop, en altesaam 50 mense het deelgeneem. Die BHRC het dus R11 000 met die aktiwiteit ingesamel, wat hulle gebruik om hul roetes op te knap en om die bewaringseenheid se fynbos-rehabilitasieprogram te ondersteun. Dit is volgens Christel Liebenberg, algemene bestuurder van die BHRC. 

“Minder as 5% van die oorspronklike Renosterveld bestaan nog […] Daarom is dit vir ons belangrik om bewustheid te skep oor die bewaring daarvan,” het Liebenberg verduidelik. 

Renosterveld het oorspronklik veral oor die klei- of skaliegebaseerde laeveld van die Overberg gestrek, volgens die Overberg Renosterveld-bewaringstrust se webtuiste

Omdat die Renosterveld-fynbos op baie vrugbare grond groei, word dit dikwels uitgekap om plek te maak vir wingerde en ander kommersiële gewasse, volgens die BHRC-webtuiste.

Deelnemers is aangemoedig om die natuur in te drink terwyl hulle die roete gestap of kafgedraf het, volgends Scholfield. “As mens bergfiets ry, dan flits die fynbos dikwels te vinnig by jou verby. Maar nou kon mense werklik die skoonheid van die omgewing waardeer,” het hy gesê. 

Die Smokkelman-wyn het saam met die Smokkelloop ontstaan. Deelnemers het elk ’n bottel wyn as prys ontvang na afloop van die aktiwiteit, volgens Barry Scholfield, een van die organiseerders van dié aktiwiteit. FOTO: Nicola Spingies
Die Smokkelman-wyn het saam met die Smokkelloop ontstaan. Deelnemers het elk ’n bottel wyn as prys ontvang na afloop van die aktiwiteit, volgens Barry Scholfield, een van die organiseerders van dié aktiwiteit. FOTO: Nicola Spingies