Stellenbosch se eerste Tuinweek ’n hupstoot vir toerisme

Stellenbosch se eerste Tuinweek is onlangs ingehuldig om die plaaslike toerismebedryf te bevorder.

Tuinweek

Plante is rondom Die Braak in Stellenbosch geplant as deel van die dorp se eerste Tuinweek wat van 1 Oktober tot 10 Oktober plaasgevind het. FOTO: Inge du Plessis

Dit is volgens Elmarie Rabe, bemarkingsbestuurder van Visit Stellenbosch wat die geleentheid van 1 Oktober tot 10 Oktober aangebied het. 

“Ons hoofdoel was om toerisme te stimuleer en ekonomiese groei te bewerkstellig,” het Rabe per e-pos aan MatieMedia gesê. 

Tuinweek het Stellenbosch as bestemming bemark en bevorder, maar die restaurant- en akkommodasiesektor en hul verskaffers het ook voordeel getrek uit die toename in voete in die dorp, volgens Rabe. 

“Daar was amper 300 verskillende geleenthede vir mense wat iets wou bywoon,” het sy gesê. “Baie van die geleenthede is uitverkoop, maar daar was ’n paar wat nie baie aftrek gekry het nie.” 

As deel van Stellenbosch se Tuinweek, is daar ’n tydelike spekboom-doolhof op Die Braak gerangskik wat uit 4 100 spekbome bestaan. FOTO’S: Inge du Plessis (Foto 1 en Foto 2) en Stellenbosch Municipality/Twitter (Foto 3)

Die geleenthede het kunsuitallings, openbare en privaat tuinbesoeke, werkswinkels, praatjies, avontuuraktiwiteite en toere van historiese roetes ingesluit, volgens die Visit Stellenbosch Tuinweek-kaart

Sukses én teleurstelling

Die Rupert-museum het twee uitverkoopte kuns- en blommewerkswinkels by die geleentheid aangebied, volgens Eliz-Marie Schoonbee, kurator van die museum. 

“Die hoofdoel was dat ons besoekers geïnspireerd moes voel ná ’n besoek aan ’n geleentheid of deelname aan ’n werkswinkel,” het Schoonbee per e-pos aan MatieMedia gesê. 

Tuinweek was egter nie ewe suksesvol vir almal nie. “[Ons doel was] om Stellenbossers na Love to Give in Kayamandi te lok om ons tuine te kan sien, sodat ons sodoende bewusmaking rondom ons werk kan skep,” het Annabel Rosholt, projekbestuurder van Love to Give, per e-pos aan MatieMedia gesê. Love To Give is ’n nie-winsgewende organisasie (NWO) wat fokus op gemeenskapsontwikkeling in Kayamandi, volgens hul webtuiste. 

Vir hul deelname aan die geleentheid het Love to Give ’n toer deur hul gemeenskapstuin by hul sentrum in Kayamandi aangebied. En daarna ’n wandeling in die gemeenskap om die tuine van inwoners en kleinskaalse produsente te sien, volgens Rosholt. 

Dié aktiwiteite was egter nie trekpleisters nie. “Daar was slegs ses besoekers,” het Rosholt gesê. 

Kayla Ruiters het as vrywilliger by Tuinweek Gretel Prins se privaat tuin, wat vir die publiek oopgestel is, beman. “My tuin is nie noodwendig ’n gestruktureerde, formele tuin nie. Maar eerder ’n sprokiestuin wat ​​uit verjaarsdaggeskenke van mense bestaan. Steggies en plantjies van almal af,” het Prins gesê. Sy beskryf haarself as ’n passievolle tuinmaker. FOTO’S: Inge du Plessis

Die deelname aan Tuinweek is wat dit so interessant gemaak het, meen Gretel Prins, ’n tuinmaker en die organiseerder van die privaat tuinbesoeke. 

“Diegene wat hul privaat tuine oopgestel het, het ’n wonderlike ervaring met die publiek gehad. Mense het van regoor die wêreld gekom. Russe, Swede, Nederlanders, Duitsers en plaaslike mense het die tuine besoek […] en iets besonders beleef,” het Prins gesê.

Besoekers het die tuine verlaat en gegons oor hoe “wonderlik” die ervaring vir hulle was, volgens Prins. “Ek dink dít was ons hoofdoel en mikpunt,” het sy gesê. 

Tuinweek het verskeie aktiwiteite ingesluit, soos die Stellenbosch Urban Sketchers, ’n gratis sketsgroep. Nuwe sketsers het by hulle aangesluit vir Tuinweek, volgens Fawa Conradie, stigter van die groep. “Ek hoop hulle kom weer. Ons het spesifiek hierdie geleentheid in die middedorp gehou om deel te voel van die Tuinweek-aktiwiteite,” het Conradie gesê. FOTO’S: Inge du Plessis

, , , ,