ʼn Skootrekenaar is glo onlangs uit die Paul Roos Kwikspar-kantoor gesteel, volgens Danie Strydom, mede-eienaar van die winkel.
ʼn Skootrekenaar is glo op Sondag, 10 Augustus, uit die kantoor van die Kwikspar oorkant Paul Roos Gimnasium gesteel, volgens Danie Strydom, mede-eienaar van die winkel. FOTO: Anja van Zyl
Die voorval het na bewering op 10 Augustus om 14:30 gebeur en is op die winkel se geslotekringtelevisie-kameras vasgevang, volgens Danie.
“Toe ek Maandag inkom, toe sien ek die laptop is weg,” het Danie gesê.
Die vermeende verdagte was ongeveer 10 minute lank in die winkel. Niemand het vermoed hy gaan iets steel nie, het Christa Strydom, Danie se vrou en mede-eienaar van die Kwikspar, wie se skootrekenaar dit was, gesê.
“As jy langs híérdie rak loop, kan [die] kassiere jou nie sien nie. Dis hoe hy [glo] by die kantoor ingekom het sonder dat iemand hom sien,” het Danie verduidelik terwyl hy na die rak wys.
Die man wat van die misdaad verdink word, se bewegings is op die winkel se geslotekringtelevisie-kameras vasgevang, volgens Danie Strydom. Op dié verkorte weergawe van die beeldmateriaal kan ’n mens sien hoe ’n man die winkel binnekom met ʼn sak oor sy skouer. Later wys dit hoe hy éérs deur die winkel loop en daarna van die kantoor se kant af loop terwyl hy sy sak toemaak. VIDEO: Verskaf/Danie Strydom
“[Die] volgende stap is om polisie toe te gaan en ʼn saak te gaan maak […] – wat die meeste van die tyd nie die moeite werd is nie,” het Danie gesê. “Ek kan nie elke maand in die hof gaan staan en net uitstel en uitstel nie, dis net nie moontlik nie.”
Die Strydoms besit al vir 12 jaar dié Kwikspar op Stellenbosch en volgens hulle is dit glo die eerste keer dat iets van só ʼn aard gesteel is.
Die Paul Roos-omgewing is gewoonlik “redelik veilig”, volgens Danie. “Jy kry van tyd tot tyd [diefstal], maar nie só nie.”
Daar is altyd voor en ná skool kinders by die winkel en hulle wil vir die kinders ʼn veilige hawe skep, het Christa gesê. “Dit is die doel van die winkel. En dis hoekom ek nie hou van sulke goed nie – want dit is vir hulle ʼn veilige plek.”
Die kantoor in die Kwikspar waaruit die skootrekenaar glo gesteel is. Die vermeende dief het glo van agter die rak af by die kantoor ingesluip, sonder dat die kassiere hom kon sien, volgens Danie Strydom, mede-eienaar van die Kwikspar. FOTO: Anja van Zyl
Die rekenaar was glo op hierdie plek op die lessenaar, volgens Danie Strydom. Die kabels wat by die rekenaar ingeprop was, is steeds daar. FOTO: Anja van Zyl
Ander onlangse diefstal in die area
Volgens kaptein Nathalie Martin, woordvoerder van die Stellenbosch-polisiestasie, word twee onlangse voorvalle van diefstal in dieselfde omgewing tans ondersoek. ’n Voorval van diefstal vanuit ’n motor op 5 Augustus om 17:30 is by die polisie aangemeld, asook ’n voorval van motordiefstal by ’n huis naby Paul Roos Gimnasium op 6 Augustus om 14:30, het Martin gesê.
