Opwipvertonings in onkonvensionele ruimtes wag vir Stellenbosch

Die Toyota US Woordfees-program (Woordfees) bied vanjaar, vanaf 6 tot 11 April, ʼn nuwe toevoeging tot die program aan – ʼn kunstenaarsweek. Dit is volgens Saartjie Botha, direkteur van Woordfees. 

Die Woordfees geskied tradisioneel jaarliks in Maart, maar die feesdireksie het in November verlede jaar aangekondig dat die fees vanjaar vanaf 17 tot 24 September aangebied gaan word, vanweë “die moontlikheid dat Covid-19-protokolle bywoningsyfers kan beperk”.

As deel van die kunstenaarsweek, gaan 70 kunstenaars projekkonsepte ontwikkel in samewerking met agt fasiliteerders vanuit die teater-, poësie- en dansbedrywe. Dié konsepte sal volgens die Woordfees-webtuiste aan die einde van die kunstenaarsweek, op 9 en 10 April, as ʼn reeks opwipvertonings, Flikker & Flash, gratis aangebied word.

Die vertonings gaan hoofsaaklik in leë winkels en kantoorruimtes in Dorpstraat en naby die Eikestad-winkelsentrum uitgevoer word, waar gehore vanaf sypaadjies na vertonings gaan kyk, het Botha gesê. Venue-lyste van die spesifieke liggings sal volgens Botha op 8 April op die Woordfees se sosiale mediaplatforms bekend gemaak word.  

Winkels en kantoorruimtes wat tans “leeg en donker staan”, sal deur die vertonings met lewende kuns belig word, het Botha gesê. 

“Daar sal dus werklike lig wees, maar hopelik bring die kunstenaars ook verligting vir die algemene swaarmoedigheid wat weens die pandemie geld,” het Botha bygevoeg. 

Kunstenaars wat in die vertonings sal optree, sluit onder andere in Antoinette Kellerman, Cintaine Schutte, Ira Blanckenberg, Melissa Myburgh, Neels van Jaarsveld, Peggy Zinziswa Mongoato en Veronique Jephtas. GRAFIKA: Carla Visagie

Reëlings vir September se Woordfees, sal op 16 April bekend gemaak word, maar Botha het gesê dat die feesdireksie aan “alternatiewe modelle” werk om die Woordfees op “ander platforms te laat voortleef”. 

Woordfees

Kunstenaars en fasiliteerders by die eerste slypskool op 6 April. FOTO: Carla Visagie

Slypskole 

Die kunstenaarsweek, wat gratis in die vorm van slypskole aan die kunstenaars aangebied gaan word, is ʼn geleentheid vir kunstenaars om hul vaardighede verder te verfyn. Dit is volgens Cintaine Schutte, Fynskrif-aktrise en deelnemer aan die slypskole. 

“Daar gaan so baie mentors wees wat ons in verskillende vlakke gaan vat. Ons gaan so [baie] leer by mekaar ook. Kan jy net imagine die magic wat gaan gebeur?” het Schutte gesê.

Cintaine Schutte, ʼn deelnemer aan die slypskole. Elke slypskoolsessie sal volgens Saartjie Botha ʼn spesifieke fokus hê “van narrespel tot pantoen-skryf, gespesialiseerde meesterklasse tot improvisasie-oefeninge”. FOTO: Verskaf/Leana Clunies-Ross.

Die kunstenaarsweek is veral belangrik vir jong kunstenaars omdat dit geleenthede skep vir groei, meen Melissa Myburgh, Kompleks-aktrise en deelnemer aan die slypskole.

“Ons is ook tans in ʼn pandemie wat maak dat dit moeilik is om geleenthede te kry, want niemand wil regtig nou kanse vat met onervare kunstenaars nie,” het Myburgh gesê.

Impak van die pandemie op die kunste

Vertonings is gratis, maar skenkings kan ten bate van die Tribuo-fonds gemaak  word. Dit is volgens Dr Leslie van Rooi, senior direkteur van Sosiale Impak en Transformasie by die Universiteit Stellenbosch.

Dié fonds bied volgens die Tribuo-fonds-webtuiste finansiële ondersteuning aan kunstenaars wat beperkte inkomste inbring weens die Covid-19-inperking.

“Alvorens die kunstefeeste nie ten volle hervat en teaters en vermaaksentrums weer op volle kapasiteit funksioneer nie, bly die nood onder vryskutmense in die uitvoerende kunste steeds groot,” meen Nita Cronjé, woordvoerder van die Tribuo Uitvoerende Komitee. 

Cintaine Schutte werp lig op die impak van die pandemie op die kunsbedryf.

, , , ,