Nuwe webtuiste lig vuiste teen geslagsgebaseerde geweld

Die nie-winsgewende organisasie, Safe Space, het ’n webtuiste van stapel gestuur om minderheidsgroepe te waarsku oor geografiese gebiede waar geslagsgebaseerde geweld gereeld voorkom.

Stellenbosch is tans die enigste gebied in die Wes-Kaap waar gevalle van geslagsgebaseerde geweld aangemeld is, sedert die webtuiste op 24 Augustus geloods is, het Nakita Naee’lah Dellwaria, mede-stigtende direkteur van dié organisasie, gesê.

Dit is egter nie genoeg om Stellenbosch reeds as brandpunt te klassifeer nie, omdat die organisasie nog sukkel om wydverspreide bewustheid oor die webtuiste te skep, het Dellwaria gesê.

“Ons moet kennis neem van die feit dat [die webtuiste] slegs twee weke oud is. Soos ons meer publisiteit kry om mense te help verstaan ​​dat dit ’n webwerf is waarop hierdie voorvalle aangemeld kan word, sal die verkeer op die webtuiste toeneem,” het Dellwaria aan MatieMedia gesê.

Op só ’n wyse sal meer akkurate probleemareas geïdentifiseer kan word, het Dellwaria gesê.

Safe Space poog om deur middel van hul Chalk It Up-geleenthede gebiede vir vroue terug te eien, waar geslagsgebaseerde geweld dikwels plaasvind. Tydens dié byeenkomste word bemagtigende boodskappe op die plaveisel geskryf waar vroue dikwels onveilig voel. FOTO: Instagram/@safespacersa

Volgens Megan Haskins, ’n mede-verteenwoordiger van Safe Space in die Wes-Kaap, is geslagsgebaseerde geweld egter wel ’n dieper kultuurkwessie op Stellenbosch. 

“Ek dink [geslagsgebaseerde geweld] is iets wat verskans is in die kultuur van Stellenbosch. Dis veral deel van die geskiedenis van die manskoshuise,” het Haskins beweer.

Stellenbosch het ook ’n baie jong demografie en studente is gereeld op hulle selfone. Dít is waarskynlik ook hoekom Stellenbosch op die oomblik die plek is waar die meeste mense gevalle aangemeld het, het sy verder gesê.

GRAFIKA: Jenna Lemmer

Die pad vorentoe

Volgens Dellwaria sal die data wat deur die webtuiste ingesamel word – wat voorheen nie elders beskikbaar was nie – gebruik word om druk op plaaslike regerings, die polisie en ander belanghebbendes soos die universiteit te plaas om veiliger spasies te skep. 

Dit kan moontlik lei tot onder meer die aanstelling van meer sekuriteitswagte in hoë-risiko gebiede en die installering van ligte in gevaarlike stegies, het sy verder gesê.

Die webtuiste bied ook verskeie hulpbronne aan vroue, soos onder meer noodnommers, sielkundige hulpbronne en selfverdedigingsopleiding-video’s. INSTAGRAM-PLASING: @safespacersa

Safe Space beoog ook om deur die webtuiste mense uit lae-inkomste huishoudings te help, het Haskins gesê.

“Ons probeer tans data-vrye sones op die webwerf skep sodat dit nie net studente is wat slimfone en data kan bekostig wat gevalle [van geslagsgebaseerde geweld] kan aanmeld nie,” het sy gesê.

Dit sluit in nie-amptelike aanmeldbare gevalle van geslagsgebaseerde geweld soos betasting en sogenaamde “cat-calling”, het Dellwaria verder gesê.

Grace Mbali Mngadi (voor links) tydens ’n optog teen geslagsgebaseerde geweld in Kaapstad na die verkragting en moord op Uyinene Mrwetyana in 2019. Volgens Nakita Naee’lah Dellwaria, mede-stigtende direkteur van Safe Space, het Mrwetyana se dood haar gemotiveer om die Safe Space-webtuiste te ontwikkel. Vanjaar is die Safe Space-webtuiste op die eenjaar-herdenking van Mrwetyana se dood geloods. FOTO: Instagram/@gracoe0102

Grace Mbali Mngadi, ’n lid van die Anti-GBV Movement SU en bestuurder van die Womxn and Queer Empowerment (WAQE) Studenteraad portefeulje by die US, het die webtuiste geprys omdat dit “cat-calling” as ’n aanmeldbare geval van geslagsgebaseerde geweld erken. 

“Mense het al hierdie problematiese dinge genormaliseer. Ek dink nie enige geval van geslagsgebaseerde geweld is te klein nie,” het Mngadi gesê.

, ,