Nasionale ensemble-wenners beplan album met prysgeld

Een van die wen-groepe van die jaarlikse Universiteit Stellenbosch (US) se Nasionale Ensemble-kompetisie (SUNEC) is van plan om ’n album op te neem met die gekombineerde prysgeld van R23 000. 

Dit is volgens Aubrey Junior Matsila, een van die kunstenaars van die jazz-emsemble, die Sun Quintet, wat die ope kategorie vir die beste jazz-ensemble gewen het en die algehele wenners in die ope kategorie was. Hulle het R8 000 en R15 000 onderskeidelik vir die kategorieë ontvang. 

Optredes by vanjaar se Nasionale Ensemble-kompetisie (SUNEC), wat op 30 September deur Universiteit Stellenbosch (US)  gehou is, was “skouspelagtig”, het Mario Nell, medeprofessor en voorsitter van die departement van musiek aan die US, gesê. VIDEO: Stefani Terblanche

“Ek is geskok, opgewonde, gelukkig en dankbaar vir die geleentheid wat God vir my gebied het,” het Matsila gesê ná die wen. 

Die Sun Quintet bestaan uit Aubrey Junior Matsila, Mark Lynch, Melisizwe Plaatjie, Dillon Cornelius en Stuart Martin. 

SUNEC het vanjaar op 30 September in die Endler-saal plaasgevind en baie goed verloop, volgens Frances Levenderis, die koördineerder van dié kompetisie. Daar was vanjaar 19 ensemble-groepe wat na die finaal toe deurgedring het teenoor slegs tien die vorige jaar, het sy gesê.

Sun Quintet, met onder andere Aubrey Junior Matsila (in foto 1), was die algehele wenners in die ope kategorie by die jaarlikse Universiteit Stellenbosch (US) se Nasionale Ensemble-kompetisie (SUNEC). Third Wave, met Ryan Munro (links in foto 2), Henco Bester en Logan Jantjies, was die algehele wenners in die skole-kategorie. FOTO’S: Stefani Terblanche

Third Wave maak golwe

Die algehele wenners in die skole-kategorie was Third Wave, met Henco Bester, Logan Jantjies en Ryan Munro, van Hoërskool Outeniqua. Hulle is ook aangewys as die beste jazz-ensemble in die skole-kategorie. Húl totale prysgeld beloop R16 000.

“Eerlikwaar, dit is verskriklik onverwags,” het Lynette Peterson, ’n onderwyseres van Hoërskool Outeniqua, gesê. 

“Hulle het duidelik daardie ekstra myl gegaan en dit het so gehelp. En kyk vir hulle. Dit is nie enigiemand wat kan sê dat hulle 16, 17 jaar oud [is] en hulle speel al so nie.”

Bester was self “baie verbaas” oor hul wen, terwyl Jantjies gedink het dat Hoërskool Outeniqua se groot jazz-ensemble ’n groter kans gestaan het om te wen. 

Sowat 19 ensemble-groepe het na die finaal van vanjaar se Universiteit Stellenbosch (US) se Nasionale Ensemble-kompetisie (SUNEC) deurgedring, het Frances Levenderis, die koördineerder   van dié kompetisie gesê. Verlede jaar was daar slegs tien groepe in die finaal. FOTO’S: Stefani Terblanche

“Skouspelagtige optredes”

Volgens Mario Nell, medeprofessor en voorsitter van die departement van musiek aan die US, was die dag gevul met “skouspelagtige optredes”.

Dié kompetisie, wat sedert 1995 gehou word, se doel is om jong musikante se talente te ontwikkel en om die genot van optredes saam met ander aan te moedig, het Nell gesê. Die doel is om verskillende musiekgenres te bereik, insluitend jazz, tradisionele Afrika-musiek en klassieke musiek, het hy gesê.

“Die beoordelaars het gekyk na die musiek wat die kunstenaars gespeel het en na hul persoonlikhede op die verhoog, asook hoe baie die gehoor die optrede geniet het,” het Levenderis gesê.