Munier Hartzenberg gryp goue geleentheid met beide hande aan

Dennis profile

Matie-vleuel Munier Hartzenberg kyk uit oor die Danie Craven-stadion in Stellenbosch. FOTO: Dennis Delport

Die Matie-vleuel Munier Hartzenberg dien as bewys van die gesegde “een se dood is ʼn ander se brood.”

Hierdie een-en-twintig jarige spoedvraat het vanjaar sy geleentheid wat afrigter Hawies Fourie aan hom gebied het met beide hande aangegryp tydens die Varsitybeker reeks in die afwesigheid van Matie-legende Duncan Saal, wat in die eerste rondte in vanjaar se toernooi ʼn besering opgedoen het. Saal se besering het hom vir die res van die seisoen op die kantlyn gehou.

“Duncan Saal is ʼn baie goeie rugbyspeler. Ek het geweet dat daardie besering ʼn groot verlies meegebring het vir ons span, maar ek het ook geweet dat ek hierdie geleentheid om sy skoene vol te staan met albei hande sal moet aangryp,” vertel Munier.

Oor sy vriendskap met Duncan vertel hy met ʼn glimlag op sy gesig dat Duncan ʼn baie groot rol gespeel het in sy sukses. “Hy is een van my grootse motiveerders. Ek is seker dat daar nog groot dinge oor sy pad sal kom.”

Munier het vanjaar die Maties suksesvol gehelp om hul titel as kampioene te verdedig nadat hy twee puik drieë in die finaal gedruk het teen die Universiteit van Pretoria (Tuks). Hierdie titel was sy tweede een gewees nadat hy verlede jaar as plaasvervanger vir die Maties diens gedoen het.

Met trots sê hy “om ʼn kampioen te wees is ongelooflik! Ek kan nie beskryf hoe dit voel nie. Dit is ongelooflik.” Munier, wat sedert die ouderdom van sewe rugby speel, hoop dat hierdie sukses ander spelers sal motiveer om dieselfde te doen.

Om Maties te verteenwoordig op die rugbyveld is vir Munier ’n baie groot eer. “Persoonlik beteken dit baie vir my om hierdie span te verteenwoordig. Ek wil my merk los op hierdie span. Dit is van uiterste belang om jou merk te los hier want die wat voor ons gespeel het, het dit gedoen.”

Hy kyk met trots oor ’n reënerige en nat Danie Craven-stadion uit. “Wanneer jy by daardie tonnel uitstap voor ’n wedstryd gaan daar baie deur jou kop. Met twintig-duisend ondersteuners op die paviljoen is daar ook veertig-duisend oë op jou,” sê hy. “Ek geniet elke oomblik op hierdie veld saam met my span.”

Daardie einste span het volgens Munier ook ’n baie sterk band. “Ons kom almal uit verskillende agtergronde uit, maar wanneer ons saam is, is daar niks wat ons kan breek nie.”

Tydens vanjaar se finaal in Stellenbosch was daar baie druk op die span en die sogenaamde “broederskap”, soos Munier dit beskryf, gewees. Munier het egter hierdie wedstryd soos enige ander wedstryd benader. “Ek het vir myself gesê dat ons was al in hierdie posisie op hierdie einste veld gewees.” Hy verwys na die slagting van die Noordwes-Universiteit (NWU-Pukke) verlede jaar waarin die maroenmasjien met 40-7 koning gekraai het. “Daar is dus geen nut daarin om myself met stres te oorrompel nie,” sê hy.

Sy “enige ander wedstryd” benadering was eenvoudig gewees. Hy is ook maar net student. “Op wedstryd dae vermy ek akademiese verpligtinge. Ek wil my kop skoon hou. Ek doen geen opdragte nie en soms gaan ek nie eers klas toe nie,” vertel hy laggend. “Voor die wedstryd kyk ek graag na motiverende rugby videos wat my sal inspireer vir die wedstryd.”

Wanneer Munier weg beweeg van die rugbyveld af is hy tans besig om sy BA-graad te voltooi en is in sy derde jaar van studies. Hy beoog om sy nagraadse studies in onderwys aan te pak volgende jaar. Sy passie vir kinders was duidelik sigbaar toe hy sy toekoms planne bespreek. “Ek kom uit ’n omgewing waar bendegeweld ’n baie groot impak op die omgewing het. Ek sal graag vir kinders wil leer van reg en verkeerd. Ek sal hulle graag wil leer om ’n sukses van hul lewens te maak,” sê hy. Wanneer hy nie besig is met sy studies of rugby nie, geniet hy dit om tafeltennis te speel.

Munier bevestig dat hy volgende seisoen die trui van Maties sal dra indien hy gekies sou word.

In die afseisoen gaan ek oudergewoonte weer baie hard aan myself gaan werk. Ek wil my plek in die beginspan sement, wat baie moeilik gaan wees omdat daar soveel talent in die groep is, en dit is juis daarom dat ek ekstra hard gaan moet werk,” sê hy.

Wanneer sy tyd by Maties tot ’n einde sal kom het hy net soos enige ander rugbyspeler ambisies om die groen en goud van die Springbokke te dra. “Ek sal egter eers my studies wil voltooi en daarna sal ek nuwe geleenthede aanpak sou dit vir my beskore wees.”

Munier vertel dat hy sy fans wil bedank vir hul getroue ondersteuning. “Moet asseblief nooit ophou om Maties te ondersteun nie, want sonder julle is ons sukses nie moontlik nie.”

Die dames wat ’n gereelde oog op Munier hou tydens sy spog vertonings in die maroentrui sal ook net daar op die kantlyn moet bly. Munier dank sy familie en meisie vir hul getroue ondersteuning gedurende die pad wat hy stap na sukses.

Nie-te-min sal getroue Matie ondersteuners opgewonde wees oor volgende seisoen waarin Munier weereens sy talent op skou sal stel.