Maties vrouespan maak geskiedenis in Varsitybeker-wedstryd

Maties Rugby se vrouespan het hul opponente in hul eerste wedstryd in Varsitybeker-reeks met 63-5 die loef afgesteek.

Die vrouespan het op 20 Maart teen die Universiteit van KwaZulu-Natal uitgedraf in die heel eerste vroue-wedstryd wat in die Varsitybeker-reeks gespeel is. Die wedstryd is by die Danie Craven-stadion gespeel.

Teen halftyd het Maties reeds met 27-5 voorgeloop.

Bianca Augustyn, kaptein van Maties Rugby se vrouespan, het op 20 Maart geskiedenis gemaak toe sy haar span vir die heel eerste vroue Varsitybeker-wedstryd uit die tonnel gelei het. FOTO: Liza-May Pieters

Ruimte vir verbetering

Maties het uit die staanspoor voorgeloop, maar het die bal dikwels onnodig verloor, het Maties se flank, Ankia Viljoen, gesê. 

Die span het gesukkel om ná duikslae vinnig genoeg by die losskrum uit te kom, het Bianca Augustyn, die kaptein van die Maties se vrouespan, gesê.

Die span gaan in die toekoms moet fokus om balbesit by die afbreekpunt te hou, het Augustyn gesê. Augustyn het Suid-Afrika verlede jaar by die Statebondspele verteenwoordig toe sy vir die nasionale sewesspan uitgedraf het.

Sy meen die span se fiksheidsvlakke het begedra tot hul sukses in die wedstryd. “Ons het al 9 Januarie begin oefen, so ons oefen al vir 10 weke,” het Augustyn gesê. 

Maties se agsteman, Elmé Kruger, sterk op pad doellyn toe. Sy het ʼndriekuns behaal en is as speler van die wedstryd aangewys. FOTO: Liza-May Pieters

Emosies loop hoog

“Dit was emosioneel om voor so baie mense te kan speel tydens die eerste wedstryd,” het Lara Schats, Maties se losskakel, gesê. 

“Ons opwarmingswedstryde is sonder kontak, so dit was ʼn baie lekker ervaring om vir ʼn slag met kontak te kon speel,” het Viljoen gesê.

Die span werk steeds aan sekere aspekte van die spel, maar Augustyn is tevrede met die hul eerste Varsitybeker-uitslag.

Die Maties vroue-rugbyspan se heelagter, Danelle van Zyl, in aksie reg voor Maties se doellyn tydens hul Varsitybeker-wedstryd teen die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN).  FOTO: Liza-May Pieters