Maties plaas kollig op gestremdheid tydens Loslitdag

Studente en personeel aan die Universiteit Stellenbosch (US) het Vrydag op Loslitdag die klem geplaas op die bewusmaking van gestremdhede tydens hul deelname aan ’n rits aktiwiteite op die Rooiplein.

Loslitdag is die vlagskip-projek van die Nasionale Raad vir Persone met Gestremdhede (NCPD) wat jaarliks op die eerste Vrydag in September gehou word. Ter viering van die 23ste bestaansjaar van die projek het tien spanne van ses spelers elk meegeding om verskeie pryse.

Vir ’n kykie na die verskillende aktiwiteite wat aangebied is, kyk hier. VIDEO: Nicolette van Schalkwyk. Gebaretaal deur Ilzé Aäron (20), ‘n tweedejaar BEd onderwysstudent.

Vanjaar se Loslitdag-geleentheid is moontlik gemaak deur die US se Transformasiekantoor, die Menslike Hulpbronne afdeling sowel as die Eenheid vir Gestremdhede.

Volgens Marcia Lyner-Cleophas, hoof van die US se Eenheid vir Gestremdhede, fokus die universiteit gedurende September spesifiek op gestremdheid en toeganklikheid. Die US het ook hul Beleid oor Gestremdheidstoegang hersien om oplossings te vind vir die uitdagings waarvoor gestremde studente daagliks te staan kom.

Sy meen die Loslitdag-geleentheid is in hierdie opsig baie belangrik omdat dit bewustheid skep en deelname bevorder.  

“Hierdie jaar se tema, ‘Wees elke dag ‘n held saam met gestremdes’, moedig elkeen van ons aan om na die held in ons te soek en om te besin oor ons betrokkenheid by sake wat gestremdes raak,” sê sy.

FOTO 1

Twee deelnemers van die Emoji-span en lede wat werksaam is by die US Vervoerdienste. FOTO: Nicolette van Schalkwyk

Die universiteit het ook kragte saamgespan met Dis-maties en die Stellenbosch Werksentrum vir Volwasse Persone met Gestremdhede, aan wie ’n groot deel van die opbrengs gaan.

Bongani Mapumulo (26), voorsitter van Dis-maties, sê daar is reeds baie wat gedoen word om bewustheid te skep rondom hierdie kwessie, maar dat die breër Stellenbosch-gemeenskap meer betrokke kan raak.

“Loslitdag is daardie een keer in ’n jaar wat ons net kan stop en vir ’n oomblik kan dink aan mense met gestremdhede en hoe dit dié minderheidsgemeenskap affekteer. Dis is ook ’n geleentheid om te dink aan die verskil wat ’n mens kan maak,” sê Mapumulo.

Een van die lede van die Westelike Provinsie Rolbalklub tree op as ’n beampte tydens die geleentheid. FOTO: Nicolette van Schalkwyk

Een van die lede van die Westelike Provinsie Rolbalklub tree op as ’n beampte tydens die geleentheid. FOTO: Nicolette van Schalkwyk

Volgens Sally-Anne Williams (64), ’n vrywilliger by die Stellenbosch Werksentrum, is geleenthede soos dié belangrik omdat persone met gestremdhede dikwels eenkant geskuif word.

“Dit is belangrik dat studente wat nie gestremdhede het nie deelneem aan Loslitdag, want dit is hoe ons hierdie mense bewus kan maak daarvan en hul ook laat besef dat ons almal, ten spyte van ons gebreke, dieselfde is.”  

Alhoewel baie van die spanne uit studente bestaan het, is universiteitspersoneel ook aangemoedig om deel te neem. Marieta van Wyk (47) en Renate Del-Fava-Fry (37), beide werksaam by die US Vervoerdienste en lede van die Emoji-span, sê Loslitdag is meer as net ’n manier om mense vir ’n tydjie van hul lessenaars af weg te kry.

“Dit is ook ’n wonderlike spanbou-geleentheid en ’n manier om vir mense met gestremdhede te wys ons gee regtig om,” meen Van Wyk.

FOTO 3

Pokkel, die US gelukbringer, vermaak van die deelnemers met sy danspassies. FOTO: Nicolette van Schalkwyk

Volgens Charl Linde, kommunikasiebestuurder van die Transformasiekantoor, vorm die geleentheid deel van die kantoor se Imbizo 365 jaarlikse kalender waartydens die universiteit poog om betrokkenheid by belangrike sosiale kwessies te kweek.

 Hy sê vanjaar se tema, wat op nasionale vlak gekies word, is nie net inspirerend nie, maar ook motiverend.

“Helde gee om vir ander mense en plaas hulself in ander se skoene, sê Linde. “Hulle streef daarna om alles te wees wat hulle kan, ten spyte van hul tekortkominge.”

Volgende jaar se Loslitdag sal plaasvind op 9 September 2019.

This slideshow requires JavaScript.

my-new-infograp_32402134

,