Teater: Evita @ 90, met Pieter-Dirk Uys
13 Oktober om 18:30
Adam Small Teater
Die Suid-Afrikaanse ikoon Evita Bezuidenhout het Sondagaand luide applous ontvang by die Toyota Stellenbosch Woordfees vir die eenmanvertoning Evita @ 90. Dit was die enigste optrede deur Pieter-Dirk Uys (80) tydens vanjaar se fees.
Tydens die 70-minute lange vertoning het Tannie Evita, soos Suid-Afrikaanse gehore haar oor dekades heen leer ken het, die gehoor vermaak met staaltjies oor die verlede, spesifiek ten opsigte van die land se politieke leiers.
By tye het die gehoor uitbundig gelag, ander kere is instemming duidelik gemaak soos mense aangedui het dat hulle met haar saamstem.
Wat uitstaan, is Uys se vermoë om aan te dring op feesgangers se aandag: regdeur die optrede was dit stil in die Adam Small-ouditorium; ’n mens kon selfs hoor as iemand rondskuif in hul stoel. In een stadium het iemand se selfoon gelui, vir ’n redelike tydjie, waarop Evita gesê het: “Antwoord tog, asseblief Skattie, netnou is dit Oom Pik!”

Pieter-Dirk Uys as Evita Bezuidenhout by die 2025 Toyota Stellenbosch Woordfees. PHOTO: Rentia Weber
Nasionale skat
Die doyenne van Suid-Afrikaanse teater het regdeur die vertoning nie teleur gestel nie. Die kort, byderwetse kapsel, die vals wimpers, die dun rooi lippe wat Uys oor die jare ingespan het om met Suid-Afrikaners te práát oor alles wat krom is in hierdie land, is steeds daar.
So ook die gevatte opmerkings oor die regering, die fyn waarnemingsvermoë rondom kulture en uiteindelik die introspeksie van ’n groot gees oor medemenslikheid: kuns op sy beste.
Dat sy ’n nasionale skat is, is gewis. Die gehoor was stampvol, en weliswaar ’n gehoor wat meestal gryskoppe in beslag geneem het. ’n Mens is amper spyt dat die jonger garde nie ook teenwoordig was om die pêrels van wysheid te kon waarneem nie.

Die Adam Small-Teater was stampvol tydens die Evita @ 90 vertoning vanjaar. FOTO: Rentia Weber
Aan die einde van die vertoning, verwyder Evita stuk-stuk haar bekleedsel om sodoende die gedaanteverwisseling te maak na Pieter-Dirk Uys: Eers die bo-stuk, dan die kapsel, so ook die wimpers en helaas die borste (sokkies). Hy eindig dan, triomfantlik, met die woorde: Sy sal altyd 10-jaar ouer wees as ek!
Uys verlaat die vertoning op ’n persoonlike noot: “It’s been a very strange thing, being 80. The audition is over, the disease to please has been cured, I don’t have to apologise, because I am old. Tomorrow is going to be exciting because we survived today. Today is inked in, tomorrow is inked in, and everything else is penciled in.”
- Terloops
So gepraat van pêrels: Die joernalis Herman Lategan skryf onlangs in Daily Maverick ’n fantastiese artikel oor presies hoé Uys dit kon regkry om, deur Evita, ‘die nasie’ se angs toe te spreek met pêrels, letterlik en figuurlik. Lees gerus hier.
Evita Bezuidenhout verklee na Pieter-Dirk Uys. VIDEO: Rentia Weber
https://drive.google.com/drive/u/0/folders/1NgMtRcKDDAxPky2lO7Zj3kQ67k2gAC2Z
