Hierdie dinge pla ons, sê Pniël-inwoners met onlangse stap

Verskeie inwoners van Pniël het gedurende ’n onlangse Menseregtedag-staptog hul kommer uitgespreek oor bestaande kwessies in dié Bolandse dorp. Dit is volgens Sandra November, ’n lid van die Pniël Gemeentelike Kerk-komitee vir die 180-jarige herdenking, en die organiseerder van die Menseregtedag-staptog. Die staptog het op 21 Maart plaasgevind. 

Volgens November was dit die eerste keer dat dié staptog aan die voet van Simonsberg gehou is. Vorige jare is ’n roete deur die dorp gevolg. 

Nie eers reën kon die inwoners van Pniël in hul spore stop nie, het Sandra November, ’n lid van die Pniël Gemeentlike Kerk-komitee vir die 180-jarige herdenking en die organiseerder van ’n onlangse Menseregtedag-staptog in dié dorp, gesê. FOTO: Jan-Hendrik de Villiers

Inwoners spreek kommer uit

Deur die staptog wou inwoners die onderdrukking van die verlede, soos slawerny en apartheid, uitlig, maar ook die aandag vestig op moderne probleme wat inwoners ervaar. Dit is volgens Brandon Robyn, ’n plaaslike en gekwalifiseerde toergids.

Robyn het vertel dat ’n gebrek aan toeriste-attraksie dit moeilik maak vir toergidse om ’n wins te maak. “Daar is baie mense wat graag wil kom hike, maar dan gaan hulle na die groter companies toe, soos [in] Stellenbosch of Franschhoek,” het Robyn beweer. Dié gebrek dra ook by tot die dorp se werkloosheidsyfer, het hy gesê. 

Dwelmmisbruik onder die jeug is nog ’n moderne probleem wat sy kop uitsteek, het November gesê.

Sandra November, ’n lid van die Pniël Gemeentelike Kerk-komitee vir die 180-jarige herdenking, en die organiseerder van die onlangse Menseregtedag-staptog, het voor die staptog kospakkies verskaf aan die individue wat deelgeneem het. FOTO: Jan-Hendrik de Villiers

Letsels van die verlede

Michael “Mike” Fraser, ’n inwoner van Pniël en lid van die Pniël-ontwikkelingsforum, het ook die geleentheid gebruik om te verduidelik hoe belangrik dit is om die verlede te onthou, deur sy eie persoonlike grootwordjare tydens apartheid te deel. 

“My gesin is drie keer in die Oos-Kaap, onder die Groepsgebiedewet, teen hul wil verwyder,” het Fraser vertel.

“Waar hulle die mense van mekaar geskei het, is ons as ‘ander kleurig’ geklassifiseer. My ouma is as swart geklassifiseer en is na ’n swart woonbuurt toe geskuif,” het Fraser gesê. Sy gesin is egter na ’n sogenaamde bruin woonbuurt geskuif.

Sandra November (links) en Michael “Mike” Fraser (regs) was albei sprekers tydens die onlangse Pniël Menseregtedag-staptog. FOTO: Jan-Hendrik de Villiers

Inwoners onderhandel oor toegang tot die berg 

Inwoners van Pniël wou deur die staptog ook aandag vestig op hul pogings om toegang tot Simonsberg te kry, sodat hul vrylik dele van dié berg te voet kan besoek, het November gesê. Inwoners sien dit as ’n ruimte waar hulle hul erfenis kan herdenk, maar die toegang word soms deur privaateienaarskap beperk, het sy gesê.
SMF News het ten tyde van publikasie nog nie kommentaar van die betrokke privaateienaar ontvang nie.

Sandra November, ’n lid van die Pniël Gemeentlike Kerk-komitee vir die 180-jarige herdenking en die organiseerder van die Menseregtedag-staptog, het aangeraai dat deelnemers nie tydens die staptog alleen moet wandel nie, aangesien die berg se opdraande baie steil is. FOTO: Jan-Hendrik de Villiers

,