Gelyke Kanse en die US stamp weer kop in die hof

Die toekoms van Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit Stellenbosch (US) is nou in die hande van die konstitusionele hof.

Die US en Gelyke Kanse-beweging is in afwagting vir die uitslag van die konstitusionele hof oor die US se taalbeleid.

Die saak is op 8 Augustus aangehoor.

Volgens Danie Rossouw, lid van die Gelyke Kanse-loodskommitee en opdraggewende prokureur van Gelyke Kanse, “is die beweging gestig om moedertaalonderrig in die algemeen en Afrikaanse moedertaalonderrig in die besonder te bevorder”.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het in 2017 bevind dat die taalbeleid van 2016 aan die taalbeleid op Hoër Onderwys (2002) sowel as aan die Grondwet voldoen.

Luidens hofstukke wat by die konstitisionele hof ingedien is, voer die US aan dat die taalbeleid van 2016 “uitdruklik verklaar dat dit beoog ‘om uitvoering te gee aan artikel 29(2) van die Grondwet wat betref taalgebruik in die US se akademiese, administratiewe, professionele en sosiale kontekste’, sowel as aan artikel 29(1) in soverre dit met hoëronderwystoegang verband hou”.

Die US is van mening dat “aangesien die US se kampusse in die Wes-Kaap geleë is, het die instelling hom tot meertaligheid verbind deur die provinsie se drie amptelike tale, naamlik Afrikaans, Engels en Xhosa, te gebruik”.

DSC_0006

Die rooiplein en J.H. Neethling gebou op die Universiteit Stellenbosch (US) kampus waar die taalbeleid betwis word. FOTO:Dominique Jeftha

Gelyke Kanse stem nie saam nie

Volgens Rossouw is daar 26 universiteite in Suid-Afrika en dit is slegs op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes Universiteit waar studente steeds grade in Afrikaans kan verwerf.

“As daar gekyk word na die vereistes van die Grondwet, die bepalings van die Wet op Hoër Onderwys en die taalbeleid vir Hoër Onderwys, word daar rekening gehou met die feit dat die meerderheidstaal in die Wes-Kaap Afrikaans is,” sê Rossouw.

Verder voer Rossouw ook aan dat “die meerderheid van die grootste bevolkingsgroepe in die Wes-Kaap Afrikaans praat, en dat daar drie universiteite binne 60 km van die US is wat slegs in Engels onderrig”.

Dus meen Rossouw “is daar geen twyfel dat die eis om Afrikaans as primêre onderrigtaal aan die US te hê op ’n grondslag gelykstaande aan die van Engels ’n geldig en regverdigbare eis is.”

Dit wil sê dat die US op ‘n irrasionele en ongrondwetlike wyse opgetree het toe hy die status van Afrikaans in 2016 afgegradeer het,” sê Rossouw.

Volgens Gelyke Kanse en sy mede-applikante is dit om “hierdie redes, van mening dat die universiteit nie regsgronde het om sy 2016 taalbeleid ingevolge die hofsaak, suksesvol te verdedig nie.”

In ‘n persverklaring op hulle webtuiste sê die Afrikaanse Taalraad (ATR) dat daar “groot kommer rus oor die felle veldtog teen Afrikaans wat onder die vaandel van die FeesMustFall-beweging en die dekoloniseringsdiskoers geloods is.”

Die verklaring voer aan dat “die sterk rasgedrewe aard van die plaaslike verkiesings het tot hierdie besorgdheid bygedra.”

“Die Taalraad se standpunt bly dat Afrikaans nie ʼn wit taal is nie, maar aan ʼn groot verskeidenheid van sprekers behoort; ook dat Afrikaans ʼn onmisbare rol in die sosio-ekonomiese ontwikkeling van miljoene van haar sprekers speel,” lees die verklaring.

Luidens die verklaring is  “enige afskaling van Afrikaans as onderrigtaal raak hierdeur die belange van al haar sprekers.”

Nie so maklik nie 

Dr. Lloyd Hill, senior dosent in die Departement Sosiologie by die US is van mening dat “die algemene neiging na 1994 was die groeiende status van Engels in hoër onderwys. ‘n Aansienlike oorwinning vir Gelyke Kanse sou egter ‘n baie interessante presedent vorm.” 

Sosio-ekonomies is die kwessies baie meer kompleks,” voer Hill aan.

Volgens Susan van der Merwe, direkteur van kommunikasie en belanghebberverhoudings aan die US, het die konstitusionele hof-uitspraak voorbehou.

“Ons het nie ’n verwagte datum vir die uitspraak nie,“ sê Van der Merwe.

,