Franschhoek-plaas in sakeredding: Werkers en inwoners sonder basiese dienste

Die lewe op Solms-Delta, ’n wynlandgoed in Franschhoek, het ’n wending geneem toe inwoners en werkers op die plaas vier weke gelede sonder krag, genoeg water, behoorlike sanitasie óf vergoeding moes begin klaarkom.

Dit is volgens ’n aantal inwonende werkers op die plaas. 

Die werkers en inwoners op Solms-Delta, ’n wynlandgoed in Franschhoek, moet vir die afgelope vier weke na bewering sonder basiese dienste klaarkom, volgens ’n aantal werkers en inwoners op die plaas. FOTO’S: Candice Jantjies

Soms-Delta is tans onder sakeredding, het Tina Raphael, kantoorbestuurder van Tayfin Financial Auditors, die firma wat Solms-Delta se sakereddingsproses bestuur, telefonies aan MatieMedia bevestig. Raphael het egter gesê dat geen vrae telefonies beantwoord kan word nie. Die firma kon dus nie met publikasie kommentaar lewer nie. 

Hoewel die werkers bewus is dat die plaas onder sakeredding is, kommunikeer die bestuur nie behoorlik met hulle oor die stand van sake nie, het Beat Stuurman, ’n wingerdwerker op die plaas, beweer. 

Sedert die krag op die plaas af is, is die krag-aangedrewe dreinstelsel kapoet nádat sy pomp uitgebrand het. Dit is omdat die pomp te swak is om sonder krag te werk, volgens Willem Geel, ’n wingerdwerker en inwoner op die plaas. 

“Die pomp kan dit nie gehou het om al daai stukke te voer nie. Toe brand hy uit,” het hy verduidelik. 

Dit veroorsaak dat die dreine oorloop, verstop, mense se erwe besoedel en ondraaglike stank agtergelaat word, volgens Geel. 

“Hoe gaan dit ruik as dit 35 grade is? Verstaan? Jy is mos mens,” het hy gesê. 

Hulle kry tans ’n “bietjie water” van ’n naburige plaas, volgens Stuurman. 

Solms-Delta

Vandat die krag op Solms-Delta af is, het die krag-aangedrewe dreinstelsel ingegee en ’n kopseer in terme van sanitasie vir die inwoners op die plaas veroorsaak. FOTO: Candice Jantjies

Die inwoners beweer dat die instandhoudingsbestuur op die plaas bewus is van hierdie kwessies, maar dat hulle nie hul verantwoordelikheid nakom om daaraan toe te sien nie. 

“Die bestuur van die instandhouding – hulle worry nie met ons nie,” het Geel gesê. 

Laat vrugte, bitter smaak

Volgens die Solms-Delta-webtuiste het hulle ’n aantal jare gelede deur argeologiese opgrawings gevind dat “alles op die plaas – van die wingerde tot die Kaaps-Hollandse geboue – op die rûe van slawe gebou is”. 

In 2017 het die eienaars van die plaas 33,3% in aandele in die besigheid van Solms-Delta aan die werkers oorgedra – “om die maatskaplike realiteite van Suid-Afrikaanse landbou aan te pak” en om vir hulle “’n regverdige aandeel van die produkte van hul voorouers se opofferings” te gee, luidens die webtuiste. Toe dié aandeel in 2016 tot 45% verhoog is, het dit die plaas aan die voorpunt van die regering se Strengthening the Relative Rights of People Working the Land-program geplaas, volgens die webtuiste. 

Die werkers ervaar egter nie dat hulle seggenskap oor die besigheid het nie, en dat hulle nie daarby baatvind nie, meen Geel en Stuurman. Party werkers ontvang vir die afgelope drie tot vier maande óf geen óf onvoldoende salarisse, volgens Geel en Stuurman. Die werkers behoort nie tans aan ’n unie nie, het Geel en Stuurman beweer. 

Dorp snoer kragte saam

Om verligting aan die werkers en inwoners te bied, het die dorpenaars onlangs ’n liefdadigheidsgeleentheid aangebied om kospakkies en geld vir hulle in te samel. Dit is volgens Errol January, een van die dorpenaars wat die geleentheid help organiseer het. Dit het op 25 September op Solms-Delta plaasgevind, het January gesê. 

“Daai het baie gehelp vir ons mense,” het Stuurman gesê. “En glo my vry […] Was hulle nou hier, sou hulle seker nou trane gestort het vir die bietjie wat hulle gekry het.” 

Solms-Delta

Errol January (links) het saam met Beat Stuurman (regs) en ander dorpenaars in Franschhoek gewerk om ’n liefdadigheidsgeleentheid aan te bied om verligting te bied aan die mense van Solms-Delta. FOTO: Candice Jantjies

, , , ,