Van pastorie tot Kartel

Francois van Coke gesels met MatieMedia oor sy metamorfose van n jong kind in Bellville se pastorie tot Suid Afrika se grootste punk-rock ster.

Op 30 Oktober 2021 het Fokofpolisiekar hul laaste optrede vir die jaar gehou. Dié optrede, by Platteland in Centurion, Gauteng, was deel van hul 18 en Fokn keen-toer wat hul 18 jaar-herdenking as ʼn band gevier het.

Hierdie 18 jaar was nie net ’n metamorfose vir die gewilde plaaslike rock-band nie. Oor dié tydperk het Francois van Coke ook verander van ʼn jong kind in die Bellville-pastorie, na ʼn punk-rock hoofsanger van een van die mees kontroversiële Afrikaanse bands in die geskiedenis van Afrikaanse musiek.

Francois van Coke

Francois van Coke is die hoofsanger van Fokofpolisiekar, Van Coke Kartel en sy solo-projek: Francois van Coke en die Gevaar. Foto verskaf: Kikitography

Vandag word Francois beskou as een van die grootste invloede vir nuwe musikante in Suid-Afrika. Dít is volgens Matt Carstens, ʼn musikant van Pringlebaai wat in 2017 saam met Francois ʼn liedjie opgeneem het. 

“Francois was nog altyd ʼn groot inspirasie vir my. Hy is die grootste naam wat Afrikaanse musiek al ooit gehad het en hy het dit bereik deur alternatiewe musiek te maak,” sê Matt. “Mense het die Voëlvry-beweging gehad, maar dit was nie op die skaal wat Francois dit beoefen nie.”

In Bellville, op die strate

Francois se lewe het op 18 September 1980 in Benoni, Gauteng, begin. Hy is die jongste van 3 kinders en het twee ouer sussies. In 1983 het Francois se ouers, Theo en Marlene Badenhorst, met die familie na La Rochelle in Bellville getrek, vertel Francois. 

Sy enigste herinninge van Johannesburg is die “goed wat ek gesien het op my pa se 8mm video camera van ons huis en die sneeu in Johannesburg in 1981”. 

“Ek het groot geword in die pastorie in Bellville, in La Rochelle,” vertel Francois.

Francois sê dat sy ouers tydens sy kinderjare baie bygedra het tot sy liefde vir musiek. 

“Ek dink hulle liefde vir die arts en vir musiek het oorgespoel na my ook. Ek het ook op skool aan die kunswedstryd deelgeneem en ek dink dit het alles ook bygedra tot op stage wees. Selfs my pa was daar op die preekstoel… wat ook soort van ʼn stage is,”  sê hy. 

Francois playing Guitar

Francois van Coke se eerste band se naam was Hydrant. Na ’n moeilike optrede, het die groep hom gevra om hulle te verlaat.  Foto verskaf: Kikitography

Verskeie bands en muskikante dien as inspirasie vir sy eie musiek.  

“Nirvana was ʼn massive invloed. Dit was die rede hoekom ek in ʼn band wou wees. Alkaline Trio het ʼn groot punk grondslag gelê vir ons. En dan seker ACDC. Dis moeilik om te sê, want ek luister enige iets van Simon en Garfunkel tot Sepultura,” verduidelik Francois.

As kind was Francois ook lief vir rugby en het in graad 7 Craven Week-rugby gespeel. Francois sê hy is steeds lief vir rugby.

“Op skool het die punks gesê ek is ’n jock en die jocks het gesê ek is ’n punk. Ek het nooit êrens in geklick nie. Ek was maar all over the show. Ek love sport net soveel soos wat ek musiek love,” sê Francois. 

Harde, negatiewe musiek

Op 27 September 2003 speel Francois vir die eerste keer saam met sy nuutste groep by ʼn fees. ’n Paar dae later, op 2 Oktober 2003, speel die band vir ’n tweede keer – hierdie keer by Mercury Live in Kaapstad. Die band se naam was Fokofpolisiekar. Die naam het begin as ʼn grap tussen Francois en sy vriend en baskitaar speler, Wynand Myburgh.  

Francois van Coke and Jack Parrow rocking

Francois van Coke en Jack Parrow by die Van Coke en Vriende-optrede in 2018. Foto verskaf: Henry Engelbrecht

Hy en Wynand het in Desember 2002 see toe gery. “En toe trek daar ʼn kar voor my in en toe sê ek: ‘Fokof familie-motor.’ En toe dink ons dit is die naam van die band wat ons wil begin,” vertel hy.

Twee weke later het hulle met Hunter Kennedy, liedjieskrywer en een van die groep se kitaarspelers, gesels en hy vra toe of die band se naam “Fokofpolisiekar” is. “En toe was dit baie beter as my idee,” vertel Francois. 

Fokofpolisiekar het hulself vinnig as ’n uitstaande band gevestig – veral met die vrystelling van hul 2003 EP ‘As jy met vuur speel sal jy brand’, volgens Francois. 

Francois hoop dat Fokofpolisiekar mense se persepsie oor Afrikaanse musiek verander het. 

“Ek hoop ons het bygedra dat Afrikaanse musiek ʼn bietjie cooler voorgekom het. Ek hoop ons het so bietjie ʼn paar mense laat dink, en leer om hulle eie denkpatrone oop te stel en nie net te dink soos wat hul geleer is om te dink nie,” sê Francois oor Fokofpolisiekar se impak.

Die groot kontroversie

Na 3 jaar en 3 suksesvolle projekte het Fokofpolisiekar groot kontroversie veroorsaak toe Myburgh na ʼn optrede die woorde “fok god” op die beursie van ʼn ondersteuner geskryf het. Die kontroversie het tot baie spanning gelei vir die groeplede, volgens Francois. 

Concert Crowdsurf

Francois by die Van Coke en Vriende-optrede in 2018. Foto deur Henry Engelbrecht

“Dit was nogal hard core. Ek bedoel ons het doodsdreigemente,” onthou hy. Na die insident, is hulle shows by ’n feeste gekanselleer en hulle het ook borgskappe verloor. 

“Dit was nogal heavy gewees,” sê Francois. 

Francois was self nie so bekommerd oor die dreigemente nie. Maar van die ander band-lede was wel.

“Hunter wou nie die studio verlaat nie, want hy was bang dat iemand ons gaan uitvat. Ek dink ek het maar net dronk aangehou met die lewe,” vertel Francois oor die tydperk van die kontroversie. 

Dit raak beter as jy ouer raak 

Fokofpolisiekar het in 2007 ʼn breek gevat. In hierdie tyd die lede by ander groepe aangesluit. Francois en Wynand het besluit om ʼn nuwe band te begin, en Van Coke Kartel is gestig. Vir Francois was dit ʼn baie emosionele tyd. 

“Ek was in ’n baie weird plek in my lewe. Baie depressed oor die feit dat Fokof nie meer aangaan nie. So dit was so ’n miserable party band,” sê Francois oor sy tyd met Van Coke Kartel. 

Francois het ses albums saam met Van Coke Kartel uitgebring. En al was sy tyd met Van Coke Kartel moeilik, het dit hom baie geleer. 

“Dit was aan die begin nogal moeilik, want ons het hierdie underground sound en die ander Fokof off-shoots soos aKING het nou weer kommersieel baie goed gedoen,” vertel Francois. “Ek sou nooit die Fokofpolisiekar breek wou vat nie. Dit was vir my baie moeilik daai transition. Dit het baie moeite gevat, maar as dit nie vir dit was nie, sou ek nie wees wie ek vandag is nie. Dan sou ek nie begin fokus [het] op liedjies skryf nie.”

Die gesinsman

In 2010 het Francois getrou met Lauren Wiid. Hulle het 2 kinders.

“Alles is anders,” sê Francois. “Ek dink ek dink nog dieselfde, maar daai tyd het ek niks gehad nie en ek het gelewe vir musiek maak en dronk raak. En nou het ek ʼn familie wat vir my die belangrikste is in die lewe.” 

Punk Rock Concert

“Hy is baie hardwerkend. Hy sit altyd 100% of meer in en hy inspireer my om ook hard te werk!” vertel Tasché Burger vir MatieMedia. Foto verskaf: Henry Engelbrecht

Jong kunstenaars beskou vir Francois as iemand wat mense aanmoedig om hulself te wees, sê Tasché Burger, ʼn musikant en ’n wenner van The Voice Suid-Afrika. Francois was een van die mentors op dié program.

“Hy het ons as kunstenaars baie beïnvloed om altyd getrou te wees aan wie ons is, om outentiek te wees, om jou nie te steur aan negatiewe kommentaar nie. Byvoorbeeld, hy’t vir my gesê… die dag van die blinde oudisies ‘I want you to be you’,” vertel Tasché oor haar tyd met Francois op The Voice. 

Francois se advies vir enige nuwe musikant is om hard te werk en om hul passies na te jaag. Dit is belangrik om musiek te maak saam met mense met wie jy oor die weg kom, sê hy.“Ek dink die beste raad wat ek besef het werk, is: Werk so hard as wat jy kan aan jou craft. As jy kitaar speel, speel elke dag.”