Alfred Schaffer het sy pad na digkuns per toeval gevind, en het gedroom van ’n lewe as sokkerspeler of jazz-pianis. Vandag word Schaffer beskou as een van die mees bekroonde lewende digters in Nederlands. Hy gesels met SMF News se Kobus Erasmus oor sy pad na die wêreld van letterkunde.

“Ek wou ’n sokkerspeler geword het. Of ’n jazz-pianis,” sê Dr Alfred Schaffer, dosent aan die departement Afrikaans en Nederlands by Stellenbosch Universiteit. “Ek het eintlik glad nie geweet wat ek met my lewe wou doen nie.” Deesdae word Schaffer as een van die mees bekroonde lewende Nederlandse digters beskou. FOTO: Kobus Erasmus
Hy het nooit beplan om enige van sy gedigte te publiseer, of om hoegenaamd ’n digter te word nie. Maar dit is die rigting waarin die wind vir Dr Alfred Schaffer gewaai het.
“Ek wou ’n sokkerspeler geword het. Of ’n jazz-pianis,” sê hy. “Ek het eintlik glad nie geweet wat ek met my lewe wou doen nie.”
Schaffer sit in sy propvol kantoor op die sesde verdieping van die Lettere en Sosiale Wetenskappe-gebou – by die department Afrikaans en Nederlands – van die Universiteit Stellenbosch (US). Hy doseer tans Nederlands hier.
Hy vertel hoe sy vrou geskrik het vir die stapels boeke en papiere wat die kantoor versier. “Mens weet tog self waar alles is,” sê hy.
Talle wêreldreise in sy jongdae het hom gelei tot in Suid-Afrika. Dit is hier waar hy sy vrou, Karmen, ontmoet het.
“My pa het gesê dat ek ’n tipiese zondagskind is,” vertel Schaffer.’’ (’n Zondagskind verwys na ’n persoon wat gereeld goeie geluk het.) “Nie om te sê dat ek niks moeite doen vir enigiets nie, maar dit kom soms so bietjie na my aangewaai. ’n Rolling Stones-tipe idee van wherever I lay my head.”
Deesdae word Schaffer as een van die mees bekroonde lewende Nederlandse digters beskou, en het hy in 2021 die gesogte P.C. Hooft-prys vir sy oeuvre ontvang.Sy gepubliseerde werke sluit in Zijn opkomst in de voorstad (2000), Dwaalgasten (2002), Definities en hallucinaties (2003), Geen hand voor ogen (2004), Schuim (2006), Louter (2008), Kooi (2008), Bezoek (2012), Mens dier ding (2014), Postuum: een lofzang (2016), En dat stopt het (2016) en Wie was ik (2020). Schaffer se werke is ook in verskeie tale vertaal.

Dr Alfred Schaffer in sy kantoor op die sesde verdieping van die Lettere en Sosiale Wetenskappe-gebou van die Universiteit Stellenbosch. Sy kantoor het ’n uitsig oor Stellenbosch-berg en Helderberg. FOTO: Kobus Erasmus
Van Aruba na Nederland
Schaffer se ma is oorspronklik van die Karibiese eiland, Aruba. Sy het in die sestigerjare na Nederland getrek waar sy taamlik baie “naïewe” rassisme ervaar het. Mense het byvoorbeeld aan haar hare probeer vat, of vir haar gevra of haar vel werklik bruin was, sê hy.
Schaffer glo dat hierdie tipe rassisme as gevolg van onkunde plaasgevind het, maar sê dat dit nietemin skadelik was.
Dit is in Nederland waar sy ’n Nederlandse man, Schaffer se pa, ontmoet het. In 1973 is Schaffer gebore.
“My pa was iemand wat baie gereis het. Ek dink dit was omdat hy iemand was wat die tweede wêreldoorlog meegemaak het as ’n jongman,” sê hy. “Hy was vyftien jaar ouer as my ma en gebore in 1922.”
Schaffer se ma is op die ouderdom van 52 oorlede. Hy staan haar dood toe, nie net aan gesondheidsprobleme nie, maar ook aan die trauma van die verlies van haar dogtertjie. Schaffer se suster het op ’n jong ouderdom verdrink.
“Dit doen iets geestelik aan ’n mens. Ook aan ’n mens se liggaam,” sê hy. “Ons het nie die verskriklikste dinge beleef nie, maar wel dinge wat daarmee te maak het. Met migreer, met aanpas, met anders wees, met voel soos ’n buitestaander.”

Dr Alfred Schaffer gee vir die afgelope 14 jaar klas by Univeristeit Stellenbosch (US). Hier is hy in die personeelkamer van die Departement Afrikaans en Nederlands op die sesde verdieping van die Lettere en Sosiale Wetenskappegebou. FOTO: Kobus Erasmus
Van Nederland na Afrika
Schaffer het Nederlandse literatuur, film- en teaterwetenskap aan die Universiteit van Leiden (UL) in Nederland studeer.
“As ek reg onthou het ek Nederlandse [literatuur] gekies omdat ek verlief was op iemand in my klas,” sê hy. “Dus, eintlik, sit ek met geen intellektuele oorweginge agter al die paaie in my lewe nie.”
Hy vertel dat hy wel een keer ’n gedig onder ’n skuilnaam gepubliseer het. “Ek onthou nog dat dit ’n baie slegte liefdesgedig was,” sê hy.
Tydens ’n uitruilprogram in 1995 het Professor Rolf Wolfswinkel van die Universiteit van Kaapstad (UK) vir Schaffer by UL ontmoet. Wolfswinkel het Schaffer aangemoedig om sy studies in Kaapstad voort te sit.
“Dit was net strande en mooi weer en oulike jazz-klubs,” sê hy, oor sy beweegrede om wel in Kaapstad verder te studeer. Maar hy was ook lus om op reis te gaan. “[Dit is] eintlik alles redes wat nie so akademies is nie.”
Schaffer sy studies by die UK in 1996 begin. Wat oorspronklik ’n besoek van drie maande sou wees, het verander in Schaffer wat sy PhD by die UK aangepak het as ’n manier om sy “visum te verleng”. In hierdie tydperk het Schaffer ook vir Karmen ontmoet.
Tydens sy studies by UK, het Schaffer afgekom op die gedigte van die Nederlander, Nachoem Wijnberg en van die Amerikaner, John Ashbery. Hul werke het hom geïnspireer om weer te begin skryf, maar hierdie keer onder sy eie naam.

Dr Alfred Schaffer se kantoormuur in die Lettere en Sosiale Wetenskappe-gebou by Universiteit Stellenbosch. FOTO: Kobus Erasmus
Heen-en-weer
In 2005 het Schaffer teruggekeer na Nederland om nader aan sy pa te wees. Daar het hy by ’n uitgewery gewerk.
Na die geboorte van sy dogter, het hy saam met sy gesin na Suid-Afrika teruggekeer, en het hy in 2011 by US begin klasgee.
Sy kollega by die US, Prof Willem Anker, beskryf Schaffer as ’n “briljante dosent wat omgee vir sy studente”.
“Dr Schaffer is ʼn wonderlike kollega om mee saam te werk. Hy is wys en belese en ʼn fantastiese digter,” sê hy. “Ek leer elke dag iets by hom.”
Soos sy pa, het Schaffer al heelwat reise in sy lewe aangepak. Na veertien jaar in Suid-Afrika vertel hy dat hy weer die begeerte het om rond te reis.
“Ek het nog nooit so lank op een plek gewoon nie,” sê hy.

Die werke van Dr Alfred Schaffer is in verskeie tale vertaal, insluitend Afrikaans, Engels, Sweeds en Duits. FOTO: Kobus Erasmus
Vandag
Karmen Schaffer, Alfred se vrou, is ’n grafiese ontwerper. Sy vertel dat hulle gesin vreeslik kreatief is, en dat dit take soos administrasie en finansiële beplanning soms bemoeilik.
“Ons dogter is genadiglik geseënd met meer van daardie skills. Terwyl sy ontsettend kreatief is – sy dans, teken en doen drama – [kan sy] ook prioritiseer, wiskunde doen, orde nastreef en logies dink,” sê sy.
Tans sien Schaffer uit na ’n opkomende sabbatsverlof waar hy hoop om ’n nuwe bundel af te rond, en te begin skryf aan ’n nuwe roman.
Schaffer vertel dat kreatiwiteit iets is “waarmee jy moet sukkel”. Dit vereis tyd en toewyding, sê hy. En, soos hy ouer word, vind hy dat die inspirasie nie meer so maklik kom soos in sy jongdae nie.
Hy maak egter tyd vir skryf tussen sy akademiese verpligtinge deur. Dit het al onder meer aan die kombuistafel gebeur met sy dogter wat deur die huis rondhardloop.
“Daar sit mens en skryf poësie, niks afgesonder nie, maar so in die middel van die lewe,” sê hy. “Dít is eintlik die lekkerste vir my om te doen deesdae, want sokker speel gaan maar moeilik. […] Ek speel nog klavier, maar ek speel nie in ’n band nie. Dus ja, skryf is regtig, ja… Dit is my hoekie.”
