Die lewe ná die nuus om sewe

Riaan Cruywagen is sinoniem met Afrikaanse televisienuus. Hy het reeds vir 10 jaar as radio-omroeper gewerk toe Suid-Afrikaners hom in 1975 as nuusleser leer ken het. Vier dekades en 9 000 televisienuusuitsendings later, is Riaan Cruywagen uitgetree uit die uitsaaiwese. Hy beskou homself egter nog nie as afgetree nie. Hy is tans die aanbieder van die weeklikse kykNET program, Met ’n huppel in die stap.

Dit is 26 November 1975. Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) se televisienuusafdeling (TV) is ’n paar maande vantevore, in Mei 1975, gestig. Die nuusleser op die aanbiederslys vir die nuusuitsending vir die aand, het nie opdaag nie. Die nuusspan kyk na Riaan Cruywagen. Cruywagen is in die stadium die eerste nuusregisseur van die SAUK se TV-nuusafdeling.

nuus

Riaan Cruywagen het vir meer as vier dekades in die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse televisienuus uitsaaiwese gewerk. Hy bied steeds kykNET se program vir senior burgers, Met ’n huppel in die stap, aan. FOTO: Inge du Plessis

“Jy het nou al vir 10 jaar op die radio nuus gelees. Jy ken TV-nuusredaksie soos die palm van jou hand as ’n nuusregisseur. Sal jy nie net vanaand vir ons aanbied nie?” onthou Cruywagen hoe die vraag aan hom gestel was. 

“Ek sê: ‘Ja, maar dan moet iemand vir my ’n baadjie en ’n das leen!’ Ek het ’n baadjie in die hande gekry, ek het by iemand ’n das gekry en hulle het my net so voor die kamera neergesit, my naam op die aanbiederslys gesit en my nooit weer afgehaal nie,” skerts Cruywagen. 

’n Passie vir die uitsaaiwese

“Dit is die nuus om sewe op SABC2. Goeienaand.” Só het Cruywagen Suid-Afrikaners sedert die koms van TV in Suid-Afrika gegroet. 

Cruywagen onthou hoe hy as vyf-jarige seuntjie agter sy pa se “uitgediende radiogram” agter in die motorhuis gaan sit het om verslag te lewer oor die Koreaanse oorlog wat daardie tyd plaasgevind het. “Ek het nooit die uitsaaiwese betree met die doel om bekend te word en gewild te word nie. Ek het ’n passie vir uitsaai,” sê hy. 

Ek het nooit die uitsaaiwese betree met die doel om bekend te word en gewild te word nie. Ek het ’n passie vir uitsaai.

Cruywagen het in sy loopbaan hard gewerk aan sy beeld van geloofwaardigheid, sê Adv Sandy Macdonald, Cruywagen se oud-kollega by SAUK TV-nuus. “In die jare negentig van die vorige eeu is daar in ’n meningspeiling bevind dat nét Nelson Mandela groter geloofwaardigheid as Riaan gehad het,” vertel Macondonald aan MatieMedia per e-pos. 

“Daar is ’n paar dinge wat ’n nuusaanbieder altyd moet onthou, en dit is dat hy volkome professioneel moet wees, onpartydig, ongebonde en geloofwaardig. […]  Jy verwerf naderhand ’n reputasie as ’n geloofwaardige en betroubare aanbieder en jou reputasie word jou kosbaarste uitsaaibesitting,” verduidelik Cruywagen. 

Riaan Cruywagen met die eerste nuusbulletin wat hy aangebied het op 26 November 1975. Die hoofnuus daardie aand was dat Breyten Breytenbach nege jaar se tronkstraf sal ontvang. FOTO’S: Inge du Plessis

“Wat ek by Riaan geleer het was om ten alle tye professioneel te wees, ten alle tye mense te respekteer, hulle tyd te respekteer, en jou kykers te respekteer, want jy is ook maar net daar danksy hulle,” sê Suzaan Steyn, wat Cruywagen se mede-nuusaanbieder op SABC2 was. 

Toe Cruywagen voltyds by die SAUK was, het hy ’n kantoorwerk ook gehad. Nuusaanbieding was vryskutwerk. 

“Ek was in ’n stadium redakteur van spesiale nuusopdragte, ek was redakteur van nuusaanbieding en ek het self die openbare betrekkinge van die nuusdiens behartig.” Dit het beteken dat hy 8:00 in die ogggend reeds op kantoor was, tot 16:30 die middag. 

In die jare negentig van die vorige eeu is daar in ’n meningspeiling bevind dat nét Nelson Mandela groter geloofwaardigheid as Riaan [Cruywagen] gehad het.

“Daarna stap ek direk nuuskantoor toe, want dan moet ek die aand die nuus ook aanbied. Dit was die tyd toe die nuus meestal agtuur in die aand was. Ek praat nou nie eers van die dae toe ons die laataand nuus elfuur in die aand gehad het nie. Dan was my dag baie lank,” vertel hy.

“Toe Anita, ons dogter, klein was, het dit soms gebeur dat ek haar vir twee of drie dae nie gesien het [as ek laataand nuus gelees het] nie. Dan slaap ons in dieselfde huis. As ek werk toe gaan, dan is Anita [by die skool] en as ek van die werk af kom, dan slaap sy,” onthou hy.

nuus

Riaan Cruywagen het steeds die oorspronklike tekste van die heel eerste televisienuusuitsending wat op 5 Mei 1975 in Suid-Afrika uitgesaai is (links), die heel eerste Afrikaanse nuusuitsending wat op 12 Mei 1975 uitgesaai is (middel) en die heel eerste uitsending wat hy op 26 November 1975 aangebied het (regs). FOTO: Inge du Plessis

Die lewe ná uittrede

Cruywagen het 37 jaar ná sy eerste TV-nuusuitsending, op 26 November 2012, by die SAUK uitgetree nadat hy meer as 7 000 TV-nuusbulletins daar gelees het. 

nuus

Riaan Cruywagen met die boek Speeches that changed the world. Cruywagen sien uit om meer boeke te lees nou dat hy meer tyd op sy hande het. FOTO: Inge du Plessis

Kort ná sy uittrede by die SAUK, het Karen Meiring hom genader vir ’n geleentheid as aanbieder op kykNET se Dagbreek-program. Van daar af het hy oorgeskuif na kykNUUS toe, wat later kykNET Verslag geword het, volgens Cruywagen. Dáár het Cruywagen uitgesaai tot 2018, toe hy, ná 43 jaar, uitgetree het uit die TV-nuusuitsaaiwese.  

“Die uitsaaiveteraan het gereeld vir ons, wat nat agter die ore in die bedryf was, wenke gegee. Hy was altyd gewillig en entoesiasties om jongelinge in die uitsaaiwese, veral oor regstreekse uitsendings, met raad by te staan en sy dekades se ervaring te deel,” vertel Mia Spies, ’n vryskutjoernalis wat in die uitsaaiwese werk en tydens haar eerste werk as TV-verslaggewer saam met Cruywagen by kykNET Verslag gewerk het. “Riaan het op ’n slag vir my gesê […] dat dit okay is om vlinders in jou maag te hê, ‘solank die vlinders in formasie vlieg’,” onthou sy.

Cruywagen en sy vrou, Riana, het in Mosselbaai kom aftree in 2019. “Ek is sogenaamd afgetree, maar ek sê vir mense: ‘Ek is nie afgetree nie, ek het uitgetree’,” vertel Cruywagen. Hy is tans die aanbieder van die weeklikse kykNET program vir senior burgers, Met ’n huppel in die stap

“Ek is nie die tipe mens wat kan sit en niks doen nie. Ek dink dit sal my einde beteken. Gelukkig is Riana die bestendige een in die verhouding. Sy het uit die staanspoor toe ons getrou het, gesê sy wil nooit in die kalklig beland of in die voorgrond wees nie. […] Sy skep die stabiliteit en ek is die een wat maar rondhardloop. Soms soos ’n druppel water op ’n warm stoofplaat, maar nou ja. Ek het darem nog nie in stoom verdamp nie,” sê Cruywagen. 

Cruywagen en Riana vier hierdie jaar hul vyftigste huweliksherdenking. “Ek het omtrend 9 000 aande voor die kamera deurgebring. Dit beteken dit is sowat 22 jaar. So, ons moet nou maar daardie 22 aftrek van die 50 jaar,” grap Cruywagen. 

nuus

Riaan Cruywagen (links) en sy vrou, Riana Cruywagen (regs) vier hierdie jaar hul vyftigste huweliksherdenking. FOTO: Inge du Plessis

Riana vertel dat sy baie aande alleen was. “Ek ken niks anders nie,” sê sy. “Dis maar hoe ons lewe was en is. Ons aanvaar dit so. Dis sy werk en ons ondersteun hom. […] Dit is ook hoekom dit vir my nou lekker is nou dat hy afgetree het, of wel nie afgetree het nie, maar nou dat ons hier [in Mosselbaai] is, om bietjie kwaliteit-tyd saam te kan spandeer,” vertel Riana. 

Cruywagen sien uit om nou, met meer tyd op sy hande, die wêreld saam met Riana te gaan verken, as die Covid-19 pandemie dit toelaat. 

*Mia Spies is ’n spesialis-dosent aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek.

, , ,