Cloetesville stap pad met jeug

KYK: Lede van die Walking Bus Project beywer hulself vir die beveiliging van die kinders in hul gemeenskap. Dit is hoe hulle dit soggens en middae vermag. VIDEO: Arleen Stone

“Ons kinders sal skool toe stap en dan skiet mense sommer so helder oordag. Dan moet jy wonder, Here, waar is die kinders?”

Volgens Elsabe Vermeulen (49), wyksraadslid in Cloetesville, vrees ouers daagliks oor die veiligheid van hul kinders in dié bende- en misdaadgeteisterde woongebied. Tog het inwoners saamgespan om die afgelope jaar die Cloetesville Walking Bus Project (WBP) te stig om kinders veilig na hul skole en terug te begelei.

Foto 1

Lede van die Cloetesville Walking Bus Project (WBP) sê dit neem ’n gemeenskap om ’n kind groot te maak. FOTO: Arleen Stone

Vermeulen verduidelik dat wyk 16 die enigste wyk in die Stellenbosch munisipale area is wat die WBP aangeneem het, en daagliks vrywillig omsien na die veiligheid van Cloetesville se jeug.

Foto-2.jpg

Elsabe Vermeulen, wyksraadslid vir wyk 16 van die Stellenbosch Munisipaliteit, vertel in haar kantoor hoe die WBP in Cloetesville gestig is. FOTO: Arleen Stone

Die projek dek Laerskool Cloetesville, Laerskool Rietenbosch, Pieter Langeveldt Primêr, asook Hoërskool Cloetesville.

In Augustus vanjaar is die 21-jarige Jason Piedt en die 18-jarige Donnigan Arendse slegs ’n paar strate van Laerskool Cloetesville in aparte voorvalle doodgeskiet. Tien ander moorde is in dieselfde jaar hiér aangemeld.

Interaktiewe kaart: ’n Oorsig van onlangse moorde relatief tot die ligging van die vier skole in Cloetesville. KAART: Arleen Stone

“Hulle lewer ’n verskriklike goeie diens en hulle is trots op wat hulle doen,” sê Roy van Rooyen (62), skoolhoof van Laerskool Rietenbosch. Daar is tans twee WBP-lede wat permanent dié skool se hekke beman aangesien bendegeweld dikwels na hierdie skole oorspoel.

Die merkbare drag wat die WBP-lede soggens en middae dra sodat hulle maklik identifiseerbaar is. FOTO’S: Arleen Stone

Hy sê hy besef egter hoeveel die WBP-lede opoffer deur vrywillig te werk.

Volgens Vermeulen ontvang die vrywilligers ná amper ’n jaar van vrywillige diens ’n klein betaling vanaf die Community Working Programme (CWP), ’n regeringsprojek wat werklose mense van werkende ouderdom ’n veiligheidsnet bied.

Hiérvoor moet lede twee maal per week en agt maal per maand werk.

thanksgivingdinner

Die Walking Bus Project (WBP) is sedert 2016 in die Wes-Kaap aktief en is deur die voormalige minister van gemeenskapsveiligheid Dan Plato ingestel. GRAFIKA: Arleen Stone

Die Cloetesville-tak, wat Oktober verlede jaar met ongeveer 30 lede gestig is, het egter vir maande sonder betaling verskeie kernpunte in Cloetesville beman sodat leerlinge onder hulle toesig na hulle onderskeie skole kon stap.

Daarby ondersteun WBP-lede hul gemeenskap verder deur toesig op skoolterreine te hou, skolierpatrollies af te rig en klasse waar te neem. Hulle help ook tydens buitemuurse aktiwiteite en sportbyeenkomste.

 

Interaktiewe foto: Leon “Lion” Otto (55) en sy skolierpatrollie is ’n gereelde gesig in Cloetesville se hoofstraat. Verbygangers groet elke oggend gretig. FOTO: Arleen Stone

Leon “Lion” Otto (55), ’n getroue WBP-lid, sê hoewel nie een van die WBP-lede baie besit of verdien nie, deel hy graag wat hy het met die kinders van die gemeenskap. Hy gee blykbaar gereeld kleingeld sodat leerders vir hul iets by die skole se snoepies kan koop.

Faghmia Meyer (52), oftewel “antie Mia” soos sy bekend staan, is sedert die stigting van die WBP by die beveiliging van haar gemeenskap betrokke en het self ’n kleinkind wat in Cloetesville skoolgaan.

“Ons kinders is môre se toekoms. Ons moet na hulle kyk. Al is dit wié se kind, ek sal help daar,” sê Meyer.

Foto 5

Faghmia Meyer (52), John Henry (71) en Lywandra Orey (78), drie van die oudste lede van die Cloetesville WBP, tydens ’n vergadering by die Cloetesville munisipale kantoor. FOTO: Arleen Stone

John William Henry, ook bekend as “oom Johnnie”, is ’n grootoupa van sewe agterkleinkinders en sê dit is vir hom ’n plesier om vir die gemeenskap te werk.

“As ’n man van 71 het ek gevoel dis my plig om om te sien na my medemens. Wat ek nie aan my kind gedoen wil hê nie, sal ek nie kan aanvaar as dit met iemand anders se kind gebeur nie. Daardie kind is net so goed soos my kind.”