Brandslagoffer; Vuur-en-vlam vir die toekoms

Aniek Nieuwenhuis (24) stap die bekende restaurant in Dorpstraat binne. Sy groet die kelners van haar geboortedorp met ’n sjarmante glimlag. Sy voel tuis in Stellenbosch, maar bowenal voel sy tuis in haar menswees.

WhatsApp Image 2019-04-29 at 12.04.38 (1)

Aniek Nieuwenhuis op die dag van haar gradeplegtigheid . FOTO: Verskaf

Om die omvang van haar merkwaardige lewensverhaal te verstaan en te waardeer moet ’n mens terug gaan in tyd, na die week van haar negende  verjaardag in Maart 2004.

Aniek het saam met haar familie weggebreek na die stil en ongerepte Kogelberg. Die verlate houthuis het geen elektristeit gehad nie en daarom was kerse snags aangesteek. Dit was laataand en Aniek was al diep in droomland, toe daar gas vanuit die geyser gelek het en in kontak gekom het met die kerse. Die houthuis was binne enkele minute verswelg deur vlamme.

Almal het geskarrel om van die vlamme te ontsnap; almal behalwe Aniek. Sy was steeds aan die slaap toe haar pa, Paul Nieuwenhuis (56), vir die laaste keer die brandende huis binnegegaan het. Hierdie finale reddingspoging het drastiese longskade veroorsaak en boonop moes Aniek se ma, Erica Neser (50), alleen met Aniek die 1 km pad te voet na die hoofpad aandurf. Dit was daar waar Aniek se lyfie die skade van die vlamme weerspieel het. Ten spyte van hul noodtoestand het twee karre verby Aniek en haar ma gery sonder om hulp aan te bied, “dit was nogals vir my sleg” sê Aniek met teleurstelling. Nietemin, hulp het gekom en Aniek was na die Rooikruis-kinderhospitaal in Rondebosch geneem.

Dit is hiér waar Aniek in vyf maande talle operasies ondergaan het. “Ons het ophou tel na 50,” vertel sy met ’n giggel van dankbaarheid. Sy het oor 95% van haar liggaam brandskade gehad. Sy verduidelik met kennis wat ver strek dat “85% daarvan was derdegraadse brandwonde en die ander 10% is die inwendige longskade wat [haar] liggaam opgedoen het”.

Na  maande van bedlêend wees, moes Aniek weer leer hoe om basiese bewegings, soos om te loop,  uit te voer. Sy het eers in 2005 weer teruggekeer skool toe, amper ’n volle jaar na die fratsongeluk. “Ek het besluit om na die volgende graad toe te gaan saam met my maatjies. Ek het baie sleg gedoen,” ’n lagbui glip uit haar mondhoeke soos sy die brokkie inligting deel.

Dit is onvermydelik hoe Aniek nie toelaat dat dinge haar onder kry nie. Die gebeure van ’n skoolkamp is ’n voorbeeld. ’n Klasmaat het geweier om ’n kamer met Aniek te deel omrede sy “nie wil wakker word en na Aniek se scary gesig kyk nie”. “Kinders is baie wreed, net omdat iemand anders as jy lyk, gee jou nie die reg om teen hulle te diskrimineer nie,” sê Aniek met sterk emosie wat agter dié stelling skuil. Ten spyte daarvan het Aniek die klasmaat genader en met haar gesels oor hoe die situasie kon hanteer word. Haar volwassenheid het op ’n vroëe ouderdom reeds geblom.

Aniek is ’n individualis. Sy is net haarself en glo dat “eers as ’n mens jouself aanvaar, begin jy werklik lewe”. Sy het geen behoefte aan enige chirurgie om haar voorkoms te verander nie. “Ek is happy met myself,” deel sy met trots.

Sy het onlangs gegradueer en spog nou met ’n graad in skone kunste wat sy aan die Kunsskool Michaelis van Universiteit van Kaapstad verwerf. “Kuns is vir my ’n manier om my trauma te verwerk,” vertel sy.

WhatsApp Image 2019-04-29 at 12.04.38

Een van Aniek se kunswerke, FOTO: Verskaf

Aniek is tans ook besig om ’n boek te skryf wat haar pad na genesing en heelheid dek. Dit is vir haar vreesaanjaend om intieme inligting van haarself op papier te sit en om dit met die wêreld te deel, tog  sien sy kans. Dit getuig van haar deursettingsvermoë en haar hardwerkendheid.

Christine Dirkse van Schalkwyk en Aniek deel al ’n vriendskap vir 19 jaar. Christine getuig van Aniek se hardwerkende geaardheid, een van die talle eienskappe van Aniek wat sy bewonder.

Aniek  se ma , Erica , het ook al talle boeke geskryf en praktiseer tans as borsvoeding-spesialis. Erica het na Aniek se trauma ’n boek geskryf wat haar perspektief van die fratsogeluk bevat. Jare later Is dit nou Aniek se beurt om haar ervaring neer te pen. Albei boeke sal deur NB-uitgewers bekendgestel word. Aniek se boek gaan bestaan uit inligting wat sy al lewenslank sukkel om met vriende en familie te deel en sy glo “dit sal almal net nog nader aan mekaar bring”.

Alhoewel Aniek se hele gesin deel vorm van haar ondersteuningsstruktuur, is die band tussen Aniek en haar ma onvermydelik spesiaal. Erica bewonder Aniek se dieper wysheid en besonderse diep insig in die lewe. “Sy is ver verby haar tydgenote,” spog Erica. Verder vertel Erica hoe Aniek se “dapperheid en vermoë om aan te gaan ten spyte van haar uitdagings” ’n eienskappe is wat sy die meeste van haar dogter bewonder.

48420114_10217465704979802_3363794029467664384_o

Aniek en haar ma, Erica Neser. FOTO: Verskaf/ Facebook

Aniek se verlede is gevul met trauma, maar sy is vuur-en-vlam vir die toekoms.  Haar droom is om ’n motiveringspreker te word, ’n skrywer te wees en ook om haar teenwoordigheid in die kunsmark te vestig. Sy wil met alles wat sy aanpak die boodskap van selfaanvaarding en deursettingsvermoë verprei.