Belofte van bek-en-klouseer-inentings gee hoop aan Wes-Kaapse boere

 

Die hoogs aansteeklike siekte, bek-en-klouseer (BKS)  het in November 2025 begin kop-uitsteek in die Wes-Kaap. John Steenhuisen, minister van landbou, het verlede week aangekondig dat private veeartse nou mag registreer om inentings toe te dien. “Dit sal die beskikbare mannekrag grootliks verbeter om te verseker dat ons ons inentings-mikpunt kan bereik,” het Steenhuisen gesê.

Daar is ook onlangs ’n miljoen Argentynse dosisse ingevoer na Suid-Afrika. “Ek is nogal opgewonde oor die feit dat dinge nou besig is om te gebeur met die inkom van entstowwe,” sê Johannes Loubser, Fair Cape direkteur en melkery bestuurder.

Dr. M.C. Franken,’n veearts op Stellenbosch, sê die probleem van ’n tekort aan inentings moes al lankal aangespreek geword het. Hy voeg by dat “die privaat praktyke kan help”.

Met die tekort aan inentings in Suid-Afrika, moet boere staatmaak op ander biosekuriteitsprosedures om die veiligheid van hul diere en besighede te behou.

John Morris, plaasbestuurder van die Universiteit Stellenbosch (US) se Mariendahl-proefplaas, sê: “Ek weet nie of ek dit [simptome van BKS] dadelik sal herken nie.” Dit word beaam deur Loubser. “Ek het nie ondervinding met die siekte nie, maar van wat ek hoor is dit katastrofies,” sê hy. Wes-Kaapse boere vrees oor die onsekerheid wat  BKS bring aangesien dit so onalgemeen is in die provinsie.

Fair Cape-melkery. Foto verskaf deur Johannes Loubser.

“Ons sal nou ongelukkig die toegangsbeheer op die plaas heeltemal moet opskerp sodat slegs die absolute nodigste na ons toe kom,” sê Morris. “As daar studente plaas toe kom vir prakties… ons het baie streng reëls. Hulle moenie by ander diere gewees het vir drie dae voor hulle na ons toe kom nie.” Biosekuriteit moet nou nóg meer verfyn word om hierdie siekte te bekamp.

John Morris sê dat biosekuriteitsregulasies gereelde ontsmetting van stewels en werkspakke insluit. Foto deur Celeste Rabie

Op Fair Cape-melkplaas word slegs noodsaaklike mense toegelaat op die plaas. “Ongenooide mense mag nie op die plaas kom nie,” sê Loubser.

Mariendahl-proefplaas buite Stellenbosch. Foto deur Celeste Rabie

Die departement van landbou, Universiteit van Pretoria en AgriSA het nie versoeke om kommentaar te lewer beantwoord teen die tyd van publisering nie.

 

, , , ,