Bekroonde skrywer omskep teaterstuk in roman 

Bekroonde skrywer en dramaturg, professor Willem Anker, het pas sy nuutste roman Patmos bekendgestel. Dit is volgens Délani Spies, administratiewe bestuurder van die Oude Leeskamer in Stellenbosch.

Anker se roman is gebaseer op sy gelyknamige toneelstuk wat in 2024 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees gedebuteer het, volgens Spies. 

Bekroonde skrywer en dramaturg, professor Willem Anker, het pas sy nuutste roman Patmos bekendgestel. Dit is gegrond op sy gelyknamige toneelstuk wat in 2024 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees gedebuteer het. FOTO: Rentia Weber 

“Die proses gebeur meestal andersom, maar in hierdie geval was dit, dink ek, die beste vir die ontwikkeling van die verhaal. Dit was soos om die storie van voor af te vertel,” het Anker gesê oor sy teaterstuk wat hy verwerk het tot roman. 

Kreatiewe leermeester

Anker staan aan die stuur van die Leerstoel in Kreatiewe Skryfwerk by die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Afrikaans en Nederlands, volgens Hannelie Booyens in haar skrywe op US se webwerf. 

Anker het gesê hy weet nie hoekom sekere stories hom beetpak nie. “In die geval van Patmos was dit die verhouding tussen die drie karakters wat hulle eerste [by hom] aangemeld het. Patmos se verhaallyn en vorm het vele gedaantes aangeneem voor dit op die verhoog en tóé as boek verskyn het,” het Anker gesê. 

In haar resensie van Patmos in Die Burger (28 Julie), beskryf Marni Bonthuys, dosent in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland dit as “’n mooi, slim boek vir die leser wat nie bang is vir ’n uitdaging nie”. 

Anker het gesê wat hom opgewonde maak oor literatuur, is dat “sommige mense nog wil lees en sommige nog wil skryf. Die blote bestaan van die fluisteringe van boeke is ’n verset teen die raserige sotte wat die wêreld na sy einde toe dryf.”

Vorige romans uit die pen van Anker sluit in sy debuutroman Siegfried (2007) en sy grensroman Buys (2014), waarvoor hy, volgens Spies, in 2016 die Hertzogprys ontvang het.

Marni Bonthuys, dosent in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland, se resensie oor Patmos in Die Burger (28 Julie). FOTO: Rentia Weber  

Boekgesprekke 

Skrywer Tertius Kapp sal die gespreksleier wees vir die boekbekendstelling van Patmos op 27 Augustus in Jannie se Leeskamer op Stellenbosch, het Spies gesê. Gespreksfasiliteerder en joernalis Kabous Meiring sal ook op 14 Oktober by die Woordfees met Anker gesels oor sy novelle wat as hy as teaterteks begin het. Volgens die Woordfeesprogram word die praatjie  deur Queillerie-uitgewers aangebied.

Willem Anker op die omslag van ’n biblioteek-eksemplaar van sy roman Siegfried wat in 2007 verskyn het. Dit is beskikbaar by die Universiteit van Stellenbosch se biblioteek. FOTO: Rentia Weber 

,