Amerika het vir Oprah, Afrika moet regmaak vir Alundrah

“Ek noem myself die oefen-kind, want ek is my ma se oudste kind. Daar was baie moeilike gesprekke wat ons moes hê, maar my ma was onseker oor hoe om met my te praat oor seks, verhoudings en die gevare daarvan. Sy het nie geweet hoe nie, maar sy het in Oprah [Winfrey] geglo. So sy het my Oprah laat kyk en dan moes ek haar agterna vertel wat ek geleer het.”

Alundrah Sibanda (24), sê hierdie herinnering uit haar kindertyd vorm deel van die geboorte van haar liefde vir die media-wêreld. Sibanda, oorspronklik van Harare in Zimbabwe, studeer en woon die afgelope ses jaar in Stellenbosch. Sy is tans besig met haar meestersgraad in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch en het voorheen ʼn BA in Internasionale Studies, “cum laude”, voeg sy haastig en laggend by, asook ʼn honneursgraad in joernalistiek verwerf. Sy is ook tans ʼn beurshouer van die gesogte Mandela Rhodes-stigting. Dis ʼn onverwagse warm herfsdag op Stellenbosch en voor die gesprek verder gaan kondig sy spontaan aan dat sy liefs wil ontsnap uit die geraas en koue van die Neelsie-studentesentrum.

Gemaklik in die hitte van die sonstrale op die trappe van die Stellenbosch-biblioteek vertel sy opgewonde verder:

“Ek is tans in die eerste jaar van die meestersprogram en doen nog baie kursuswerk en dan in my tweede jaar gaan ek fokus op ʼn tesis-onderwerp in media-geskiedenis. Ek is lief vir die media, ek is lief vir geskiedenis, en so kan ek die twee saamvoeg.”

Alundrah

Alundrah Sibanda op haar gradeplegtigheid in April 2019. Foto: Verskaf.

ʼn Vriend van haar beweeg nader om te groet en merk op dat sy baie deftig lyk. Sibanda antwoord laggend dat “mooi aantrek en grimering aansit is my manier van voorgee dat ek nie veronderstel is om aan ʼn projek van 6000 woorde te moet werk nie”.

In haar profiel op die Mandela Rhodes-webtuiste beskryf Sibanda haar lewe as “ʼn reeks kultuur-skokke”.

“Dis iets wat ek doelbewus doen om seker te maak dat ek ‘geskok’ word in elke nuwe omgewing waar ek myself bevind, of om seker te maak dat ek iets kan ervaar wat ek nog nie van tevore het nie.”

Sy sê dat sonder daardie denkwyse sou sy nie haarself op Stellenbosch bevind het nie. Vir dieselfde rede het Sibanda, wat haarself as ʼn toegewyde Christen beskryf, besluit om na ʼn Hindoe-hoërskool te gaan.

“Ek het gevoel dat dit die beste vir my sou wees om ongemaklik te voel. Dit sou ook goed vir my wees om van ander mense te leer want Zimbabwe is so ʼn ‘prim-and-proper’ samelewing. Daar is reëls wat jy oor en oor volg want jy weet dis grootliks ʼn Christelike nasie. En jy is gewoond daaraan om dinge in hierdie aspek te sien en te hoor en toe dink ek kom ons doen iets wat wild en onkonvensioneel is.”

Volgens haar het hierdie ervaring haar nie net geleer om ander mense se gelowe te respekteer nie, maar sy het ook opnuut respek vir haar eie geloof geleer. Dit het haar ook laat besef dat sy nie die stroom van klasmaats wou volg wat aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer het nie.

“Daar sou dit net dieselfde mense gewees het. Toe dink ek, kom ek gaan Stellenbosch toe, waarheen niemand [van haar klasmaats] tien teen sou kom nie. Daar was net twee ander mense [van haar tuisdorp] wat in daardie jaar Stellenbosch toe gekom het, en dit was cool. Hulle was ʼn tweeling en in daardie dae was hulle my ride-or-dies.”

Sibanda sê alhoewel sy gedink het sy berei haarself voor vir die kultuur-skok wat haar op Stellenbosch ingewag het, was sy inderwaarheid glad nie voorberei vir dit wat sy hier sou vind nie.

“Ek het vir twee of drie weke Afrikaanse klasse bygewoon voor ek hiernatoe gekom het, maar toe ek hier kom toe weet ek nogsteeds wat ʼn ‘gebou’ is nie.”

Maar taal was een van die mindere uitdagings wat haar in die gesig gestaar het. Koshuis-lewe was ʼn uitdaging op sy eie.

“Dit was baie tradisioneel en jy kon nie regtig teen die tradisies gaan nie. Daar was ʼn manier hoe Heemstede (Dameskoshuis) dinge gedoen het en dit het nie saak gemaak wie ek op daardie stadium was nie, my agtergrond en konteks het nie saak gemaak nie, ek moes net ʼn ‘Heemie’ (bynaam vir inwoners van Heemstede) wees.”

Om haar eie identiteit te behou moes Sibanda baie mense-verhoudings en koshuis-politiek navigeer, maar mens verstaan hoekom dit nie moeilik vir haar was nie wanneer sy verduidelik dat sy aanvanklik ʼn diplomaat wou word.

“My ma sal jou vertel dat wanneer sy ons skool toe geneem het, ek altyd opgewonde geraak het wanneer ek karre met wit nommerplate [die van diplomate] gesien het. Ek het ook tydens my oorbruggingsjaar ʼn paar diplomate ontmoet, en dit was ʼn droom om my land op daardie platform te wil verteenwoordig. Maar toe [op universiteit] doen ek die praktiese en teoretiese werk en besef, nee dis nie regtig vir my nie.”

Dis toe dat die kleintydse liefde vir Oprah en ander televisieaanbieders weer na vore kom. Sibanda sê haar ervarings in koshuis en op kampus het die fondasie geword van wat sy in die toekoms wil bereik.

“Stellenbosch-kampus is nog baie verdeeld. Soms dink ek as mense net saamsit en ʼn ordentlike gesprek voer met mekaar oor die kwessies wat hulle verdeel kan dit ʼn verskil maak. So, my passie vir joernalistiek het ontstaan deur my eie lewe in oënskou te neem. Selfs op hoërskool was ek lief vir debatteer. Met joernalistiek kon ek al my belangstellings neem en dit in een mandjie sit. So ek sien myself in die toekoms as die aanbieder van ʼn geselsprogram waar ons oor belangrike kwessies praat.”

Hierdie siening het ook haar besluit om aansoek te doen vir die Mandela Rhodes-beurs beinvloed.

Alundrah MRF

Alundrah Sibanda se profielfoto vir die Mandela Rhodes-webtuiste. Foto:Verskaf.

“Ek wou altyd die opsie he om my meestersgraad te voltooi, maar ek moes ook ʼn manier hê om vir dit te betaal. Maar terselfdetyd wou ek ook nie net vir iets aansoek doen waar ek net geld sou ontvang vir my studies nie. Op daardie stadium het dit gevoel ek het als bereik wat ek op kampus kon doen en ek wou my vlerke verder sprei. Die waardes van die Mandela Rhodes-stigting het regtig tot my gespreek, maar toe ek sien dat hulle boonop ʼn mentorskap aanbied was ek onmiddellik gefassineerd.”

Sibanda het op die laaste nippertjie haar aansoek voltooi en was suksesvol. Sy sê dit is vir haar belangrik om deel te wees van hierdie program omdat sy deel kan wees van belangrike gesprekke op die Afrika-vasteland.

“Ek het myself nog altyd ʼn inwoner van die wêreld genoem. My hele lewe deur is ek nog net geseënd op maniere wat grense oorskry het. Die wêreld lê oop voor my, en ek weet dis ʼn cliché, maar dis ʼn cliché wat waar is. Ek kan my ‘stam’ regoor Afrika vind want ek het familie gevind in die Mandela Rhodes-stigting. Ja ek het my eie gesin, maar hierdie mense ondersteun my geweldig. My mentor is ʼn dosent by ʼn besigheidskool in Lagos, sy naam is Kenneth. Hy is baie cool. Hy ondersteun my en moedig my aan om my doktorsgraad te voltooi, maar vir nou lag ek dit net af.”

Sibanda sê sy het nie noodwendig ʼn vyf- of tien-jaar plan nie, maar maak nie saak waar sy haarself bevind nie, sy wil in ʼn posisie wees om ander te bemagtig.

“Ek wil terug kan gee aan ander, of dit ses maande of ʼn jaar van nou af is. Ek is waar ek is omdat mense wat dinge bereik het in die lewe terug gekyk het en dit moontlik gemaak het vir my om te droom. Dis ongelooflik om die mag te kan he om iemand se lewe te verander.”

Ten spyte van haar suksesse, sê Sibanda sy weet elke klein treëtjie tel, en vir nou is daardie treëtjies elke woord wat help om daardie ontwykende 6000 woorde vol te maak.