Alles is nie okay nie – toneelstuk daag norms uit

Die produksie, Hoe change hulle, wat vanjaar tydens die Toyota US Woordfees 2020 by Hoërskool Cloetesville opgevoer is, wil bruin mense aanmoedig om verandering in hul gemeenskappe te bewerkstellig. Só het Veronique Jephtas, die skrywer van dié produksie aan MatieMedia gesê.

“Ek het die produksie geskryf, want ek is moeg om te sien dat niks verander nie. Só baie wonde in die bruingemeenskappe word toegeplak,” het Jephtas gesê.

Sy het gewaarsku dat mense soms maak “asof alles okay is”. 

Die produksie, Hoe change hulle, is tydens die Toyota US Woordfees 2020 by Hoërskool Cloetesville opgevoer. FOTO: Carl Thomas.

Die produksie, Hoe change hulle, is tydens die Toyota US Woordfees 2020 by Hoërskool Cloetesville opgevoer. FOTO: Carl Thomas.

Tydens dié eenmanstuk gesels Sheldon du Plooy, gespeel deur Marlo Minnaar, oor die vloek van generasies. Ander onderwerpe wat aangespreek word, sluit in alkoholmisbruik, geweld, onvoldoende openbare dienste, en werksgeleenthede wat mense uitbuit. Hy problematiseer ook die bruin man se onwilligheid om oor sy gevoelens te praat, όf om as swak voor te kom.

Die skrywer van Hoe change hulle, Veronique Jephtas. FOTO: Verskaf deur Toyota US Woordfees 2020.

Die skrywer van Hoe change hulle, Veronique Jephtas. FOTO: Verskaf deur Veronique Jephtas.

“Mense praat altyd van hoe lekker die lewe vir die wit mense is en hoe sleg dit vir die swartes is, maar oor ’n bruin mens wil niemand praat nie,” sê die karakter Sheldon tydens die produksie.

Volgens die regisseur, Lee-Ann van Rooi, leef bruin mense asof hulle nie ’n plek in die samelewing het nie. “Hulle moet ophou bakhand staan en begin opstaan vir hulself – anders gaan dinge nooit verander nie. Dít is die boodskap van die stuk,” het Van Rooi verder gesê.

Die regisseur, Lee-Ann van Rooi. FOTO: Verskaf deur Lee-Ann van Rooi.

Die regisseur, Lee-Ann van Rooi. FOTO: Verskaf deur Lee-Ann van Rooi.

Die stuk waarsku die gehoor dat dit maklik is om vasgevang te word in die sogenaamde “ghetto’s” en om bestaande omstandighede as “normaal” te aanvaar.    

“Die produksie was aangrypend. Ek het in die Cape Flats grootgeword en as jy eers sien wat daar aangaan… Ek het gelukkig nie in die trap geval nie, maar dus baie maklik om sleg beïnvloed te word as jy in sulke plekke bly,” het ’n gehoorlid, Gillian Stringer Van Rooi, gesê.

This slideshow requires JavaScript.

, , ,