’n Groep fietsryers van die Idasvallei gemeenskapsfietsryklub het op 8 Maart aan die Kaapstad-fietstoer deelgeneem. Helfte van die groep het die 109 km-roete aangepak, terwyl die ander helfte die 42 km-roete voltooi het.

Die Idasvallei gemeenskapsfietsryklub tydens hul span bekendstelling in Idasvallei. FOTO: Krotoa Felix
Omtrent 30 000 fietsryers van regoor die wêreld het gekom om aan die fietstoer, wat deur die Kaapse Skiereiland loop, deel te neem.
Een van die lede van die fietsryklub is Bevan Koopman en het in Desember 2025 aangesluit. Hy het vir die eerste keer vanjaar aan die fietstoer deelgeneem en was deel van die groep wat die 109 km-roete aangepak het. “Dit was ’n moeilike rit. Een van die uitdagings was toe ek in die laaste 10 km krampe begin kry het,” het hy gesê.
Alhoewel Koopman uitdagings gehad het gedurende sy rit, wou hy sy klub trots maak deur dit te voltooi. Hy sien uit daarna om volgende jaar weer ’n verskyning by die fietstoer te maak.

Twee lede van die Idasvallei gemeenskapsfietsryklub by die beginpunt van die Kaapstad-fietstoer. Van links: Aurilo Matjan, Bevan Koopman. FOTO: Verskaf/Bevan Koopman
Die stigter van die fietsryklub, Eon Hendrikse, het gesê dat fietsry ’n gewilde sport in Stellenbosch is, maar dat dit ’n uitdaging vir jongmense in Idasvallei en Cloetesville is om die sport te kan bekostig: “Ons wil fietsry in kleiner gemeenskappe blootstelling gee,” het Hendrikse gesê.

Van die fietse wat tydens die Kaapstad fietstoer gebruik is. FOTO: Krotoa Felix
Die klub ontvang meeste van hul voorraad van borge, insluitend TTEC,’n globale tegnologiemaatskappy. Simon Garabette, die senior bestuurder van TTEC, het gesê dat hulle in die belangrikheid van sport in gemeenskappe glo: “Dit is ’n geleentheid om die gemeenskap bloot te stel aan verskillende sportsoorte en om mense in te lig oor die belangrikheid van sport,” het hy verduidelik.
