Paarlse wetstoepassers onseker oor poste

Ses wetstoepassers in diens van Drakenstein Munisipaliteit is onseker of hulle werkskontrakte hernu gaan word wanneer dit op 30 Junie verval. Só sê Miemie Colley, tans ’n parkwag in die Paarl Arboretum en Paarlberg Natuurreservaat. Colley bekamp misdaad daar, maar is onseker of haar kontrak hernu sal word. 

Miemie Colley op haar pos in die Paarl Arboretum as wetstoepasser in diens van Drakenstein Munisipaliteit. Sy sê dat sy bekommerd is oor haar werk, want haar kontrak verstryk aan die einde van Junie. FOTO: Rentia Weber

Volgens Colley, is sy en vyf ander kollegas twaalf maande gelede deur Drakenstein Munisipaliteit aangestel as parkwagters, uitsluitlik om misdaad in die twee natuurparke te takel. 

“Ons kontrakte maak nou einde Junie klaar maar ons weet nie wat is die volgende stap nie. Ons weet niks oor [of ons werkskontrakte hernu gaan word] nie. Ons panic, want ons wíl werk,” het Colley gesê. 

Die hoof van Wetstoepassing en Sekuriteit by Drakenstein Munisipaliteit, Saul Jacobs, het gesê dat hy die parkwagterinisiatief verlede jaar van stapel gestuur het vir verbeterde veiligheid in beide parke. Hy het ook gesê dat twee vierwielaangedrewe motorfietse aangeskaf is en sedert Desember ontplooi is om “die mobiliteit van die parkwagters te bevorder”. 

“Nadat die inisiatief van stapel gestuur is, het voorvalle van misdaad drasties afgeneem,” het Jacobs gesê. Hy het egter nie op verdere navrae gereageer oor die kontrakthernuwing vir die wetstoepassers nie. 

Paarlberg Natuurreservaat (links bo) geneem vanuit die staproete binne die Paarl Arboretum. Dit grens aan die Bergrivier (links). Die parkwagte werk in skofte in beide parke om misdaad te bekamp tot groot verligting van die publiek, volgens Arena van Zyl, gereëlde stapper in die arboretum. FOTO: Rentia Weber

’n Natuurbewaarder by Drakenstein Munisipaliteit en fasiliteerder van die parkwagter-inisiatief, Lindsay Lewis, het gesê dat hy ook nie duidelikheid het oor die toekoms van die wetstoepassers in die parke nie. 

“Daar is nie regtig stats gehou nie, maar insidente van misdaad het beslis afgeneem sedert die rangers daar werk,” het Lewis gesê. 

“Soos ek verstaan, is [die parkwagte] ’n befondsde projek van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit af.” 

Alhoewel die wetstoepassingsafdeling by Drakenstein Munisipaliteit beperkte hulpbronne het, is die voortsetting van die sekuriteitswerk wat gedoen word belangrik “omdat die rangers sulke goeie werk doen”, het hy gesê. Lewis het intussen ’n versoek aan die relevante raadslede gerig rakende ’n vergadering oor die toekoms van die wetstoepassers en wag steeds vir terugvoer, het hy gesê.

“Die teenwoordigheid van sekuriteit het definitief ’n verskil gemaak aan die veiligheid in die park,” het Arena van Zyl, ’n gereëlde stapper in die Arboretum, gesê. Van Zyl het aan SMF News vertel van ’n geval waar sy benoud was oor haar veiligheid tydens ’n oefensessie, maar dat een van die wetstoepassers op ’n motorfiets haar te hulp gesnel en die situasie ontlont het. 

“Ek is baie dankbaar dat [die wetstoepassers] daar is. Kudos vir die munisipaliteit wat hulle daar geplaas het. Ek hoop ons sal altyd daardie beskerming hê,” het Van Zyl gesê.

’n Tonnel onder ’n treinspoor in die Paarl Arboretum. Sedert die Drakenstein Munisipaliteit twaalf maande gelede wetstoepassers ontplooi het, het misdaad “aansienklik verminder”, sê Miemie Colley, een van die green rangers wat werk in die park. FOTO: Rentia Weber


Lochner van Rensburg, skakelbeampte by Drakenstein Munisipaliteit, het aan SMF News gesê dat hernude kontrakte “tans met die personeel-afdeling van die munisipaliteit bespreek word”, maar hy het by navrae geen aanduiding gegee wanneer die wetstoepassers oor hul poste ingelig gaan word nie.

, , , , , , , ,