Nuwe tuin langs Eersterivier beveg gronderosie, bevorder volhoubaarheid

’n Plaaslike nie-winsgewende organisasie (NGO) het onlangs begin met die vestiging van ’n inheemse tuin op die oewer van die Eersterivier, in ’n poging om verdere erosie van die wal teen te werk.

Dit is volgens Eriléne Schioedt-Heinsen, ’n koördineerder in die Heartbeet Kitchen Community Cooking and Garden Project, ’n projek wat deur die NGO Stellenbosch Crafts Alive op die been gebring is.

Volgens Schioedt-Heinsen het die bewerking en die aanplanting van die tuin op 28 April begin, met die projek se doel om gronderosie teen die Eersterivier te bekamp. Hulle beplan ook om projekte te loods wat die plaaslike gemeenskap sal bemagtig.

Die nuwe tuin.

’n Tuin wat tans langs die Eersterivier in aanplanting is word só aangeplant om saam met die reënval te werk, om soveel as moontlik water in die grond te behou en sodoende erosie te voorkom, het Eriléne Schioedt-Heinsen ’n koördineerder in die Heartbeet Kitchen Community Cooking and Garden Project, gesê. FOTO: Marise Schoonraad

Die fondasies en tuin langs die Ou Landbousaal het gedurende swaar reën en vloede in 2023 en 2024 skade gelei, en die grond het verspoel, het Schioedt-Heinsen gesê.

Die aanplanting van die tuin sal hierdie gevolge bekamp deur die vestiging van ’n droë rivierbed en van “xeriscaping”-tegnieke gebruik te maak, het Schioedt-Heinsen gesê.

“Xeriscaping” is ’n tegniek waar inheemse plante gekombineer word met waterwyse beginsels om saam met die natuur te werk om te verseker dat water in die grond intrek, het sy verduidelik. 

Rotse word in die tuin gebruik

Die wal van die Eersterivier naby die Ou Landbousaal. Klippe word tans gebruik om rotstuine te maak wat bestand bied teen gronderosie, het Eriléne Schioedt-Heinsen, ’n koördineerder in die Heartbeet Kitchen Community Cooking and Garden Project, gesê. FOTO: Marise Schoonraad

Stellenbosch Crafts Alive het tans ’n kontrak met die Stellenbosch Munisipaliteit om die Ou Landbousaal langs die Eersterivier te bedryf, het Anna Kruger, stigter van Stellenbosch Crafts Alive, gesê. Dit word tans as ’n hub vir plaaslike ekonomiese ontwikkelings bedryf.

Die instansie ontwikkel werksgeleenthede vir plaaslike individue en bemagtig hul dan om betrokke te raak by die plaaslike ekonomie, volgens Kruger.

Projekte vir plaalike gemeenskap

Die tuin sal onder meer aangewend word as ’n groente- en medisinale tuin, het Schioedt-Heinsen gesê. Die tuin sal ook gebruik word om tuinmaakvaardighede te leer, en om mense te leer om volhoubaar te eet, het Schioedt-Heinsen gesê.

“Baie projekte fokus net op tuinmaak, maar min fokus op die belangrikheid van goeie voeding,” het Kruger gesê.

Hulle wil dus die groente wat in die tuin geplant word, gebruik om vir mense die vaardighede te leer om in hul eie lewens toe te pas, het Schioedt-Heinsen gesê.

“[Die projek] is belangrik vir die gemeenskap, want iemand van die gemeenskap kan in die tuin werk en ook iets daaruit kry – dit bied geleenthede vir ander,” het Sisipho Mangamane, ’n kelnerin by Aunt Sophie se Kombuis, gesê. Dié restaurant is ook in die Ou Landbousaal geleë.

Yibanathi Sokabo in die tuin.

Yibanathi Sokabo, ’n kelnerin by Aunt Sophie se Kombuis, in die tuin wat tans langs die Ou Landbousaal ingerig word. Dié restaurant sal ook gebruik maak van die groente wat uit die tuin kom, het Anna Kruger, verbonde aan Stellenbosch Crafts Alive, gesê. FOTO: Marise Schoonraad

Die projek maak staat op die hulp van vrywilligers, skenkings en donasies om die tuin aan te plant, het Schioedt-Heinsen gesê.

, , , , ,